John Heard (71) was veral bekend vir sy rol as verstrooide pa, Peter McCallister, in die Home Alone-flieks, Cutter’s Way, Big, Beaches en The Pelican Brief.

Aanhangers van die televisiereeks The Sporanos en Law & Order sal hom gewis ook onthou.

Sy lyk is Vrydag deur die personeel van 'n hotel in Palo Alto, Kalifornië gevind. John was luidens berigte daar om aan te sterk na 'n geringe rugoperasie. Die oorsaak van sy dood is nog nie amptelik bekend gemaak nie, maar geen vuilspel word in hierdie stadium vermoed nie.

Die kunstenaar en akteur Daniel Stern beskryf John as die "koelste kat in New York-stad" en sê hy was "belaglik vrygewig en uitsonderlik charismaties".

Hy sluit sy huldeblyk af deur John as 'n romantikus en 'n bobaas-verteller te beskryf. "Hy was 'n vriend en 'n broer en 'n legende in sy eie tyd."

Meer oor John

Sy sukses op die silwerskerm het hom egter in sy privaatlewe ontduik, veral waar liefde in die prentjie was.

John se eerste huwelik het net ses dae gehou. Dit was in 1979 met Margot Kidder wat veral bekend was vir haar rol as Lois Lane teenoor Christopher Reeve in die Superman-flieks van 1978 af. 

Sy tweede huwelik was met Sharon (ook Heard) in 1988. Die paartjie se huweliksbootjie het daarin geslaag om agt jaar lank te dryf.

In 1997 loop hy hom in die lang arm van die gereg vas toe hy aangekla word van oortreding - John is op 'n vorige lewensmaat, die aktrise Melissa Leo, se eiendom betrap. Hy het haar na bewering in glo 1991 aangerand en sy het luidens berigte vir haar lewe gevrees. Uit hul verhouding is 'n seun, John Matthew Heard (30), gebore.

Melissa, ook 'n aktrise, is veral bekend vir haar rol in die Amerikaanse sepie, All My Children.

Sy huwelik met Lana Pritchard in 2010 het net sewe maande geduur.

Een van sy kinders uit sy huwelik met Sharon, Max Heard (22) het in Desember 2016 gesterf. Die paartjie het 'n dogter, Annika.

Hollywood-bekendes bring hulde

Bronne: heavy.com, theguardian.com