'n Helikopter met twee mans aan boord het Woensdagmiddag in 'n rivierbedding neergestort naby Kgapana Village in die omgewing van Mooketsi in Limpopo.

Die vlieënier was Benjamin Osmers, of Ben soos vriende na hom op Facebook verwys. Hy was bekend en gewild in wildbewaringskringe. Ben het in die ongeluk omgekom. Hy laat sy vrou, Susan, en hul seuntjies agter.

Sy passasier, Gerdus Korb, het ernstige beserings tydens die ongeluk opgedoen en is in die Tzaneen Mediclinic opgeneem.

Die twee was vermoedelik besig om wild te tel toe die ongeluk gebeur.

Chitra Bodasing-Harduth, ER24-woordvoerder, het luidens berigte gesê niks kon vir Ben gedoen word nie en dat die helikopter in ligte laaie was toe noodpersoneel die ongelukstoneel bereik.

Gerdus is in 'n kritieke toestand enkele meter van die wrak gevind.

Die Wildbewaardersvereniging van Afrika (Game Rangers Association of Africa) het Ben as een van die beste vlieëniers in die bedryf bestempel.

Hy het 'n waardevolle bydrae gelewer: van wildtellings en die vang van wild tot optredes om stropery hok te slaan.

Ben het hierdie video op sy Facebook-blad gedeel. Dit was tydens 'n operasie om 'n renosterkalf te hervestig.

Bronne: reviewonline.co.za, netwerk24.co.za