’n Onbekende man het met die nuwe model Mercedes-Benz S63 weggery toe ’n vriend van die 46-jarige ster dit neem om brandstof en olie in te gooi terwyl sy besig was om haar nuwe rolprent, Star, te verfilm.

Toe die nuus bekendraak, het sommige mense aangeneem Latifah was die slagoffer van ’n motorkaping, maar die sangeres en aktrise sê die situasie word uit verband geruk.

"Aan almal wat my gebel het, boodskappe gestuur het: Ek is lief vir julle, dit gaan goed met my, my motor is nie gekaap nie,” het sy Dinsdag aan Live with Kelly gesê. “Ek was nie naby die motor nie. Maar die motor is by ’n vriend van my by ’n vulstasie gesteel.”

Polisiebeamptes van Foulton het vasgestel die motor was op Queen Latifah se regte naam, Dana Owens, geregistreer en hulle het haar genader in verband met die diefstal.

"Ek was besig met die verfilming van my laaste toneel van Star en dit was lagwekkend, want dit was ’n terugflits-toneel en ek was amper soos die Oueen Latifah van die 1990’s aangetrek (toe die polisie daar aankom),” het sy vertel.

"Dus is (die vriend) vulstasie toe om olie en brandstof in my motor te gooi en toe hou hierdie kêrels langs my motor stil, kruip nader, spring in en ry weg met die motor. Dit was (so) vining, asof hulle dit gereeld doen . . .”

Latifah se motor is later naby ’n woonstelkompleks gekry.

"Ons het die motor binne drie uur teruggekry,” het sy gesê.

Dit is onduidelik of die polisie steeds die manne soek wat na bewering dié diefstal, een van soortgelyke voorvalle wat onlangs in die Atlanta-omgewing aangemeld is, gepleeg het.

– Cover Media