Die rofstoeier John Cena het Sondag tydens ’n regstreekse uitsending van WWE WrestleMania 33 vir sy vriendin van die afgelope vyf jaar gevra om sy vrou te word, berig US Weekly.

John en Nikki Bella is ook rofstoei-spanmaats.

Voor John vir Nikki gevra het om te trou, het die paartjie teen The Miz en sy vrou Maryse gestoei. John en Nikki het die stoei-wedstryd gewen.

John het op sy knieë af gegaan voor ’n skare van sowat 70 000 mense. Hy het ’n klein swart boksie uit sy sak gehaal en ’n ring met ’n tamaai-diamant het in die boksie geblink.

“Ek wag al so lank om vir jou te vra. Stephanie Nicole Garcia-Colace, sal jy met my trou?” het John gevra.

Nikki het dadelik haar kop geknik, waarna die paartjie mekaar omhels het en John die blink ring aan Nikki se vinger gesteek het.

John het ook die video van die verlowing op sy Facebook-blad gedeel en gesê dit (die verlowing) kom al vir 'n lang tyd.