Die Amerikaanse akteur, Mark Salling, wat veral bekend is vir die rol wat hy in die gewilde televisiereeks Glee vertolk het, kan minstens 20 jaar tronkstraf toegedien word.

Mark het die rol vertolk van Puck, ’n hoërskool-atleet en boelie, wat in ’n sanger ontpop het.

Die 33-jarige akteur word daarvan aangekla dat hy kinderpornografiese materiaal ontvang en besit het. Die verdoemende bewyse is op sy skootrekenaar en geheueskyfie gevind waarop die polisie in Desember in sy huis in Los Angeles beslag gelê het. Hy is destyds op borgtog van $20 000 vrygelaat.
Na bewering het hulle duisende foto’s en videos wat kinderpornografie uitbeeld, gevind. Dit sluit materiaal van meisies jonger as 12 jaar oud in. Mark kan 20 jaar tronkstraf toegedien word vir die ontvangs van pornografiese materiaal en ’n bykomende 20 jaar vir die besit van kinderpornografie.

“Die tradisionele stereotipe rondom mense wat kinders seksueel uitbuit, oorvleuel geensins met die werklikheid nie,” het Joseph Macias, hoof van die Amerikaanse Immigrasie en Doene-veiligheidsondersoeke in ’n verklaring gesê.

“Ons ondersoekbeamptes kan getuig dat die beskuldigdes in kinderpornografiesake uit alle ouderdomsgroepe en agtergrond kom.”

“Mense is gereeld verbaas as hoë-profiel enkelinge onder die soeklig beland in sodanige ondersoeke en ons hoop ’n geval soos dié (Mark Salling) sal ’n groter bewustheid kweek.”

“Hierdie foto’s is veel meer as foto’s, dit is kindermishandeling.”

Mark het glo ingestem om homself aan die owerhede oor te gee op 3 Junie waar hy die klagtes rondom hom sal aanhoor.

Tydens dié proses sal ’n regter beslis of hy op borgtog vrygelaat sal word al dan nie.

Lesers mag hom ook onthou vir sy rol in die die 1996 gru-film Children of the Corn IV: The Gathering.

Bronne: 9news.com.au, english.alarabiya.net, reuters.com

Ander stories op Huisgenoot.com

Kyk: Die dag toe Minki van der Westhuizen Anneline Kriel ‘geword’ het . . .

Aktrise ‘vind haarself’ op die spoor van Bybelse gebeure

Dié optiese illusie gaan jou brein lekker deurmekaarkrap!

Kyk net wat gebeur as vier mans hoëhakskoene ’n dag lank dra!

’n Heerlike digitale legkaart om die kleinspan mee besig te hou!

Raad oor menopause – wat elke vrou moet weet