Toe Floyd Joy Mayweather Jr. die afgelope naweek in Birmingham beland het as deel van sy Undefeated-toer deur die Verenigde Koninkryk, het sy aandjie uit ’n vuurwarm kinkel bygekry.

Die man, wat deur sy verpletterde teenstaanders in die kryt beskryf word as ’n boks-genie wat nie omgee hoe hy wen nie, solank hy net wen, spog met ’n onoorwonne loopbaan in die kryt. Maar buite die kryt het hy onlangs ’n duur les geleer. Toe hy die afgelope naweek glo ’n paar meisies na sy BBP-gedeelte van ’n klub nooi, het dit ’n paar ongelukkige kêrels in die spreekwoordelike koue gelaat. Gerugte doen die ronde dat Floyd se veiligheidswagte glo vooraf mooi meisies moes naderhark vir die kuiertjie. Sowat 25 meisies het glo van die “ekslusiewe” aanbod gebruik gemaak. Terwyl hulle meer as welkom was om by hom aan te sluit, het dieselfde gul uitnodiging nie hul kêrels ingesluit nie. Die vermoede bestaan dat dit hulle warm onder die kraag gelaat het – en al hoe die boodskap aan die man met vinnige vuiste oorgedra kon word, was om sy luukse motor aan die brand te steek.

Floyd is deesdae ’n bokspromotor nadat die laaste klokkie vir sy professionele boksloopbaan reeds in 2015 gelui het.

Bronne: espn.com, thesun.co.uk, dailymail.co.uk