Erik Schipper (56) is ’n bekende in bergfietskringe en die bergfietsroetebouer by die Van Gaalen-kaasplaas, ’n gewilde berfgietsryroete venue wat hy besit by Skeerpoort, naby Hartebeespoortdam.

Erik het Dinsdagaand ’n operasie by ’n hospitaal in Krugersdorp ondergaan en sterk nou aan by ’n hospitaal in Pretoria, vertel sy seun, Victor (23) vir Huisgenoot.com.

Hy is van die bors af ondertoe verlam."Hy is so pas na die Mediclinic Muelmed-hospitaal in Pretoria verskuif," vertel Victor. "My pa is in die algemeen baie positief. Ek dink nie dit gaan te sleg met hom nie."

Hy word oorval deur oproepe, vertel Victor. "Ek neem net al die inligting in. Almal sê ons moenie opgee nie.

"Sy pa sal teen Maandag met sy rehabilitasie begin. "Ek het reeds ’n foto van hom met rekkies in sy hande."

Erik Schipper (56) is ’n bekende in bergfietskringe en die bergfietsroetebouer by die Van Gaalen-kaasplaas. Foto: Verskaf

Die fratsongeluk het Maandagaand gebeur kort nadat hy en sy pa in die gimnasium, 700m van hul plaas af, was.

"Ons het saam die gimnasium seweuur verlaat. Hy is op sy fiets daar weg. Ek het nog verby hom gery en hy was nog op sy fiets." 

Tuis het hy nog aandete geëet. Hy het onraad vermoed toe sy pa ’n halfuur na aandete nog nie by die huis opgedaag het nie. Hy het ook nie sy foon geantwoord nie. "Ek het toe 'n halfuur lank na hom gesoek," vertel Victor.

Erik is deur 'n verbygaande voertuig se ligte verblind en het toe teen ’n stormwaterdrein vasgery. Hy het 2m van die rand af op konkreet geval. Hy het ’n valhelm opgehad, bevestig Victor. Sy pa het ’n uur lank in die donkerte om hulp lê en roep.

Victor vermoed hy het elke nou en dan sy bewussyn verloor. Hy het hom agtuur die aand daar gekry nadat hy sy noodkreet gehoor het. "Ek het nog aan sy bene gevat. Ek het sy bene gevryf en hy kon dit nie voel nie. Dit was sowat 20m van ons hek af."

Victor, sy ma, Annelies, en sy susters, Fleur (25) en Robyn (17), hoop nou op ’n wonderwerk. "Dit was regtig 'n fratsongeluk."

EKSTRA BRON: TREADMTB.CO.ZA