“My staptog was nie net oor vet of om gewig te verloor nie; dit was oor vrees oorkom sodat ek ’n oop deur na ’n nuwe ek kon vind. Dit was net die begin hierdie.”

So vertel ’n plaaslike skrywer van haar mees onlangse projek. Van Koekenaap tot Nuwerus, vertel Anoeschka von Meck trots nadat sy in 22 dae 48 km op grondpaaie in die streek afgelê het. Die avontuur het geduur van 3 tot 25 Maart, haar 50ste verjaardag.

Anoeschka is die skrywer van Annerkant die Longdrop en Vaselinetjie. Laasgenoemde is in Engels vertaal as My Name is Vaselinetjie. Vanaf September 2017 gaan dit ook as ’n fliek in Suid-Afrikaanse teaters te sien wees.

Op Anoeschka se Facebook-blad val haar fotogeniese gesig en blonde hare jou dadelik op. Eers later, wanneer jy na een van haar video’s kyk en sien hoe sy met haar groen stoeltjie en kierie sukkel om haar gewig teen ’n bultjie op te dra, kom jy agter: “Drie mense groot,” sê sy.

“Ek is my hele lewe lank al oorgewig. Die res van my gesin is maer.”

Haar filmmakerbroer, Bijon (35), het haar uit Duitsland aangemoedig om iets te doen om gewig te verloor. Hy rits die wêreld vol en het ’n voorliefde vir vinnige motors op die proef stel.

“Voor my 50ste verjaardag moes ek dringend voor my rekenaar wegkom, want ek sou depressief wees. Binne twee dae het ek my staptog beplan,” vertel Anoeschka.

“Ek moes eenvoudig my vrees-energie in iets anders omskep. Ek is geneig tot innerlike wroeging, bang vir fisiese uitdagings. Een van my broers was ’n valskermspringer in die Spesmagte en spring steeds van tyd tot tyd. ’n Ander broer het aan die oudisies vir Fear Factor South Africa deelgeneem, en my suster (wat oorsee woon en 16 jaar jonger is) het verlede jaar foto’s gestuur waar sy deur ’n woud van Costa Rica foefie-slide!

“Weens my engtevrees kan ek nie eens op die skou in die Tea Cups ry nie. Of soos my boeties bungee jump nie. Nee! Ek is die ousus van ses.”

Haar ma, Gusta (72), het al die Camino gestap. “Sy is fiks en maer.”

Gusta was tydens Anoeschka se stappery altyd met haar motor ’n entjie ver weg. “Dit was ’n saak van gebed. Sommige dae met 43 °C was dit soos om uit die dode op te staan.”

Hulle het elke aand oornag op Lutzville, wat so 7 km van die begin af is. Teen die einde se kant moes hulle vroeg opstaan om ’n uur te ry na die plek waar Anoeschka die vorige dag geëindig het. Sy het dit met “my bloed en die pote van my stoeltjie gemerk”.

In ’n stadium moes sy elke 58 treë gaan sit op die stoeltjie wat sy saamgedra het. Die Lutzville-polisie wou haar selfs op een van die tawwe dae oplaai. “As iemand wat baie lief is om in die veld rond te dwaal, besef ek deesdae dat ek baie van my mobiliteit én vroulikheid weens my oorgewig ingeboet het. My gees en my lyf stem nie ooreen nie en dit is iets wat ek graag wil regstel.”

Hoekom van Koekenaap tot Nuwerus? “Want dis woordspel op aap wees; vlees en selfverwoestend tot rus in wie ek is.”

“Ek het 30 jaar laas gestap. Hierdie staptog was vir my soos om die Kilimanjaro te klim. Ek het baie bek, maar nie selfvertroue nie. My ma sou aanvankllik nie saamgegaan het nie, maar ek is so bly sy het. Sy was soos ’n sersant-majoor.

“Sy sou sê: ‘Kry my daar anderkant die heuwel vir koffie.’ Dan kom ek daar en daar is geen ma nie. Sy wag verder voor in die grondpad. Sy het my verby die beperkings in my kop gedruk.”

Hier beantwoord Anoeschka nog ’n paar vrae daaroor

Waar kom die idee vir die staptog vandaan?

Ek voel al jare lus om net uit my eie lewe te stap in iets totaal nuuts in. Ek glo as ek net lank en ver genoeg stap, sal ek vervel van my ou self tot ’n totaal nuwe gedaante . . . dis net ’n kwessie om die tyd te kry!

Hierdie staptog was egter nie my groot beplande stap nie!”

Wat was hierdie staptog dan?

My wêreld het gekrimp tot my bed en my lessenaar. Ek het nie meer na buite geleef nie, maar in my kop.

Wat het jou motiveer om te stap?

Op 50 besef ’n mens jy is die somtotaal van al die besluite wat jy tot dan geneem het. Ek moes blitsig ’n goeie besluit neem en dit uitvoer sodat die negatiewe gevoelens wat gedreig het om my te verswelg minder impak op my gemoed sou hê.

Vertel meer van die vrees?

Ek het baie min selfvertroue wanneer dit by fisieke dinge kom. Ek is baie lief vir pluimbal en muurbal, maar omdat ek groot borste het, is dit moeilik om sport te beoefen.

Die vrees was van kindertyd reeds daar.

Nog voor ek skool toe is, het ek al erge maagpyn gekry. Later is ’n spastiese dikderm by my gediagnoseer. Op my tweede skooldag het die skoolhoof my ma gekontak om te vra of sy weet ek het ’n mes saamgebring skool toe.

Dwarsdeur my skoolloopbaan was daar meisies wat my verpes het. Ek is van dag een af geboelie en het besluit om ’n broodmes in te pak om myself teen hulle te verdedig. Ek moes dit skuins draai om in my skooltassie te kan inpas, ha!

Hoewel dit gelyk het of ek baie selfvertroue het, was ek byna altyd gespanne. Ek onthou goed hoe ek as klein meisie die gevoelens van my onderwyseresse aangevoel en hoe ek byvoorbeeld geweet het wanneer hulle ’n rusie met hul man gehad het.

Ek het as Sub.A'tjie al geweier om voor ander mense uit te trek en so verskriklik aan die huil gegaan dat dit ’n drama was om my weer tot bedaring te probeer bring. En Engels het my spanningshoofpyne gegee! Ek het eers in matriek begin gewig aansit. As kind was ek nooit oorgewig nie; ek was wel tot omtrent st. 3 altyd een van die langste kinders in die klas.

Toe ek in my 20’s trou, het my spastiese kolon en angsaanvalle heeltemal opgeklaar. Ek was egter steeds baie sensitief, en as enigiemand toe gesê het ek gaan ’n joernalis word, sou dit na die mees onvanpaste beroep vir my geklink het.

Die wêreld was hopeloos te wreed en kru vir my wese. Ek voel dikwels steeds of ek per abuis op die verkeerde planeet agtergelaat is!

Dit was eers in my 40’s – ná byna twee dekades van joernalis wees – dat ek skielik weer angsaanvalle begin kry het. Hierin lê ’n groot les: As ’n mens jou worstelinge bly onderdruk en wegstoot, haal hulle jou op ’n dag in – en as jy nie ’n teenvoeter vir jou wonde/vrese het nie, word dit die ouer jy!

Het hierdie staptog enige uitwerking op jou geneigdheid tot angs gehad?

Terwyl ek gestap het, was alle angs uit my kop uit! Dit was letterlik of ek nie kon onthou of ’n begrip hê vir hoe verskriklik vasgekeer en verlate ek kort tevore nog gevoel het nie. Dit was asof die kindermonster wat onder my bed in die kamer in my kop skuil net in ’n stofbal verander en ’n vars wind dit als skoongewaai het. Ek kan regtig nie onthou wanneer laas ek so skoon en werklik kalm gevoel het nie. (Sonder enige medikasie.)

Is daar ’n verband tussen jou angs en die feit dat jy oor jare heen ál meer gewig aangesit het?

Beslis. Voor ons iets in die fisieke realm manifisteer, bestaan dit eers as ’n gedagte en ’n gevoel in jou emosionele landskap. As dit lank genoeg daar bly, glo ek, manifisteer dit eindelik na buite. Lank voor ek begin vet word het, was ek ongemaklik. Ongemaklik op hierdie planeet. In hierdie lewe. Tussen mense wat ek gevoel het my nie kon verstaan of aanvaar nie. En ongemaklik in my eie lyf. My lyf was nie “ek” nie.

Daar is mense naby aan my wat banger is vir vet word as vir ’n grondeis! Alles wat met kos of die aksie van eet te doen het, was in my kinderlewe met intense emosie belaai. Om sekere soorte kos in die huis in te bring is om byna godslasterlik op te tree. Vir my het dit gevoel stysel bring ’n skeidsmuur tussen my en die Here – dit is byna so boos soos suiwel.

Een verbode item tussen die kruideniersware was asof oorlog in ons huis verklaar was. As daar ná ’n maaltyd kos oorgebly het, was dit asof dit beskou is as ’n deur tot ’n chaos en vrede kon nie herstel word tot daai kos óf weggesmyt óf als afgewurg was nie.

Skottelgoed en kombuisoppervlakke moet altyd perfek skoon wees – byna asof alle bewyse verwyder moet word dat ons ooit aan die brutale aksie van eet deelneem.

Eet is nie kalm nie. Kos koop is nie kalm nie. Dit is ’n wolwepad vol landmyne. Goed kan in jou lewe ontplof as jy durf om iets in jou mandjie te plaas wat van boosheid deurweek is! Jy kan in ’n maalkolk van verkeerde keuses en versoekings jouself verloor. Suiker is satanies!

Hoewel ek eers in my matriekjaar begin gewig aansit het, het ek al van laerskooldae af vreemde eetgewoontes gehad. Soos verduidelik, was kos en eet net dinge in ons huis waarom baie spanning opgehou het.

Nadat ek kort ná my 16de verjaardag oorsee is, het ek vir lang tye ophou eet. Die langste wat ek heeltemal sonder kos was, was drie maande. Ek was mental en het resepteboeke sit en blaai om na foto’s van kos te kyk. Hoe maerder ek geword het en hoe meer aandag ek van mans gekry het, hoe ongemakliker het ek geraak. Om glad nie te eet nie, het my wel ’n soort mag laat ervaar. Ek het begin neersien op mense wat eet.

Maar ’n maerder lyf het gemaak dat vroue en selfs vriendinne my anders begin behandel het. Die geboelie by die skool het toegeneem – hierdie keer Amerikaanse meisies teen wie ek hoegenaamd nie opgewasse was nie.

Die aandag van ouer mans het my gevlei, maar ook nog meer van my klasmaats afgesonder.

Wat het hierdie staptog vir jou beteken? Het dit enigiets vir jou verander?

Hierdie staptog het weer die lyne van die ware ek begin inkleur. ’n Stukkie identiteit het begin terugkom. ’n Stukkie gevoel. (As joernalis het ek mettertyd met my gevoelens so onder beheer gehad dat ek later nie meer kon weet wat ek voel nie.)

Was daar enige fisieke veranderings?

Beslis, ja! Al weet ek nie hoeveel ek geweeg het toe ek begin het nie, kon ek duidelik agterkom my sitvlak raak meer kompak en daar is minder beweging, ha! En als het net netjieser geword. My romp waarin ek gestap het, het op die grond begin sleep, al het dit my voor die staptog presies gepas. Hoe ek nou stap, is heeltemal anders as toe ek begin het. Ek stap gemakliker en meer regop. Dit is amper asof my lyf nou minder bang is vir gaan stap as wat my kop is.

Hierdie staptog was in die eerste plek ’n hengse geestelike oorwinning – daarin lê die werklike impak op my toekomsdenke: om ander dinge te takel waarvoor ek steeds bang is, vrees of te not!

Jesus was heelpad my mentor en stapmaat.