Die rolprentmaker Sean Else, voorheen lid van die sanggroep Eden, se jongste seun, Noah, vier Maandag sy tweede verjaardag.

[post-slider]

“Ons het Noah (oftewel ‘beer' soos ons hom noem) se partytjie hier by ons huis in Mauritius gehou,” vertel sy ma, Carla. “Hier was nege maatjies. Dit was ’n Paw Patrol partytjie. Paw Patrol is Noah, soos vele ander kinders, se gunsteling-program op die oomblik,” sê sy.

Carla het self die dekor en die kleinman se verjaardagkoek gebak. “Die koek het my twee dae gevat, maar gelukkig hou ek van bak so dit was heel lekker. Die dekor het so ’n bietjie langer gevat. Sy gesigsuitdrukking met die eerste sien van die koek en die partytjietafel het my jaar gemaak,” vertel Carla opgewonde. “Dit was baie spesiaal.”

Hul familie en vriende het ook van heinde en ver geskenkies gestuur. “Hy is bederf met baie karretjies, boeke, ’n Paw Patrol-fiets en nog opvoedkundige speelgoed. Daar was ook ’n borrelmasjien en springkasteel vir die partytjie.” Klink mos na vet pret!

Die gesin, wat voorheen in Kaapstad gewoon het, woon al ’n ruk lank op Mauritius. “Sean is besig met ’n paar internasionale projekte hier asook in Suid-Afrika,” vertel sy. “My ouers (Karin en Danie Halgryn) is ook hier. My pa en Sean werk saam.”

“My broer (Rudy Halgryn), Sean se ander vennoot, is in Londen met die werk aan daardie kant. Dis ’n groot blessing om saam te kan werk as familie,” sê sy.

Benewens Noah, het Carla en Sean ook vier ouer seuns, Caylem (13), Vaughn (11) en Daniel (3). “Hulle is mal oor die eiland en pas baie goed aan,” sê Carla. “Hulle het baie maatjies gemaak en doen baie goed in die skool. Die oudstes kom mooi reg met die Frans.” Te oulik!