Die sangeres van die treffer Burn is in November romanties verbind met die judokampioen en in Januarie is berig die tweetjies oorweeg dit om saam in te trek.

 

Ellie het Dinsdagaand tydens ’n akoestiese vertoning om haar skoenereeks, Ellie Goulding for Deichmann, in Londen bekend te stel, aan die gehoor gesê sy is weer enkellopend.

Toe sy by hulle wil weet: “Wie’s verlief vanaand?” en geen reaksie kry nie, het sy laat hoor: “Ek ook nie,” en so bevestig dat sy weer ’n enkelloper is. Net daarna het sy haar treffer Love Me Like You Do gesing het.

 

Ellie (30) is onlangs gekiek saam met haar eks Dougie Poynter, basspeler vir die groep McFly, wat gerugte laat ontstaan het dat hulle opgemaak het nadat hul paadjies verlede jaar geskei het. Ellie het egter by die geleentheid gesê hulle is “net vriende”.

“Daar’s niks tussen ons nie; ons was altyd vriende. Hy’s een van my baie goeie vriende,” het sy aan MailOnline gesê. “Ek het nog altyd die mense gekoester met wie ek in ’n verhouding was.

“As dit moontlik is om ’n goeie vriendskap te behou met ’n eks, dan is dit goed, want jy’t soveel met daardie persoon gedeel. Ek dink dis belangrik om die lewe te deel met mense met wie jy ’n ware band het en met wie jy al baie gedeel het.”

Toe die Britse sangeres begin beroemd raak, het sy gereeld in die sosiale media na haar verhoudings verwys, maar intussen besef dis dalk beter om haar persoonlike lewe privaat te hou.

“Ek probeer om nie te veel aandag te vestig op my familie en verhoudings nie,” het sy aan WENN Cover Media gesê. “Ek wil nie hê my familie moet onnodig met iets gekonfronteer word nie. Ek hou daardie deel van my lewe apart (van my openbare lewe).

“Ek het voorheen allerhande goed op Instagran oor my ekse of wat ook al gedeel, maar ek het besef my prioriteite het verander en ek hoef dit nie te doen nie.”

Die Ellie Goulding for Deichmann-reeks is vanaf 1 Maart beskikbaar.

– Cover Media