[caption id="attachment_139946" align="alignnone" width="600"]Foto: Cover Foto: Cover[/caption]

Die voormalige American Idol-wenner, wat deur albei haar swangerskappe geworstel het, het bekend gemaak sy het vroeër vanjaar by Brandon Blackstock, stiefseun van die country-sanger Reba McEntire, daarop aangedring dat hy voor die geboorte van hul tweede kind, Remington, ’n vasektomie ondergaan.

“Ek was swanger met Remi toe sê ek vir hom: ‘Jy word reggemaak’,” vertel die sangeres aan Jenny McCarthy van die Amerikaanse radiostasie SiriusXM.

“Dit gaan nooit weer met my gebeur nie. As iets gebeur, is dit ’n wonderwerk van God. Ek het vir my ginekoloog in die teater gesê: ‘As ek ooit weer swanger raak, sal ek jou kry!’ ”

En die sangeres (34) hou vol sy het nie ’n grap gemaak nie. Sy vertel aan die TV-nuusprogram Entertainment Tonight: “Die winkel is gesluit. Goed is uitgehaal, dus kan dit nie weer gebeur nie. Ons is klaar.”

In haar openhartige gesprek met McCarthy het die ma van twee ook oor ’n skildklierprobleem gepraat wat moontlik gelei het tot haar stryd om borsmelk te vervaardig.

“Ek het werklik daagliks soos ’n mal ding melk gepomp,” het sy gesê. “Dan het dit skielik, tydens albei swangerskappe, bloot opgedroog. Ek was drie of vier weke aaneen van my kop af.”

Noudat sy ’n derde swangerskap uitgesluit het, beplan Kelly om op die grootmaak van haar kinders te fokus. Sy het ook gesê moederskap het haar bemagtig. “Dit klink so alledaags, maar ek voel baie meer selfversekerd, baie meer bemagtig, baie meer ‘ek het dit!’ ”

Die sangeres van Since U Been Gone is ook die stiefma van Blackstock se twee kinders uit ’n vorige huwelik.

© Cover Media