Lady Gaga het haar agent, Christian Carino, Maandagoggend gesoen en só die gerugte oor haar nuwe romanse bevestig.

Bewerings oor ’n verhouding tussen die Born This Way-sangeres en die verteenwoordiger van die Creative Artists Agency het vroeg verlede maand opgeduik.

Op 12 Februarie het hy hom op Interscope Records se partytjie by haar aangesluit. Hulle het gesorg dat hulle nie afgeneem word waar hulle vryerig raak nie en het mekaar Maandag in die vroeë oggendure die eerste keer in die openbaar geliefkoos.

[caption id="attachment_162900" align="aligncenter" width="600"]Lady Gaga en Christian Carino na afloop van die Grammys (Foto: Getty/Gallo Images) Lady Gaga en Christian Carino na afloop van Interscope Records se partytjie. (Foto: Getty/Gallo Images)[/caption] Op ’n foto wat E! News in die hande gekry het, steel Gaga – in ’n wit katpak geklee – ’n soen by Christian toe hulle by die Sunset Tower Hotel in Wes-Hollywood uitstap.  

Op nog ’n kiekie hou die twee hande vas terwyl hulle by die gebou uitstap om te wag dat hul motor vir hulle gebring word. Terwyl dit nie duidelik is hoekom die twee by die Sunset Tower was nie, sê E! Dylan McDermott, Christina Aguilera en die modeontwerper Tommy Hilfiger is omstreeks dieselfde tyd by die kuierplek gewaar.   Die romanse is Gaga se eerste sedert sy en die akteur Taylor Kinney verlede Julie hul verlowing verbreek het, maar tydens haar onderhoud met die omroeper Ryan Seacrest ná haar Super Bowl-optrede verlede maand het sy gesinspeel op ’n nuwe man in haar lewe.  

Gevra of sy iemand spesiaals het om haar groot uitvoering op 5 Februarie in Houston, Texas, te help vier, het sy skamerig laat hoor: “Ek weet nie.”

Ná ’n senuagtige laggie het sy bygevoeg: “Weet jy, ek praat nie oor my liefdeslewe nie, Ryan! Ek bloos nou bloedrooi. Ek is bloedrooi en dit pas nie by my uitrusting nie!”

Dis nog ’n ope vraag of Christian vir Gaga na Coachella gaan vergesel. Die sangeres het onlangs bevestig sy is die swanger Beyoncé se plaasvervanger as hoofkunstenaar by dié geleentheid in Kalifornië wat oor twee naweke in April strek.

© Cover Media