Die Hartklank-sanger Joe Foster sterk tans aan nadat hy gister ’n noodoperasie aan sy hand gehad het.

Stefanie Nortier van Joe se publisiteitspan het bevestig die sanger en pianis het sy hand lelik gebreek terwyl hy besig was om bokse en meubels te verskuif.

Joe het onlangs weer die groot trek terug Johannesburg toe aangepak nadat hy ’n tyd lank in Brenton-on-Sea naby Knysna gewoon het.

“Ons is nie heeltemal seker wat gebeur het nie,” sê Stefanie vanuit Pretoria. “Hy is besig om te trek, so waarskynlik het hy tydens die proses op sy hand geval en dit gebreek.”

Joe is dadelik hospitaal toe, waar dokters ’n noodoperasie moes uitvoer om sy hand met penne en skroewe te versterk.

“Gelukkig is sy pols nie geaffekteer nie,” voeg Stefanie verlig by. Die begaafde pianis sal gelukkig steeds by vanjaar se Innibosfees optree.

Hy is vroeër vanoggend uit die hospitaal ontslaan en sterk tans aan.