Elvis se Seun, oftewel die sanger Stefan Ludik, het Saterdag met ’n potblou oog gespog!

’n Man wat Elvis se Seun se vertoning by die Emperors Pub & Club in Sasolburg Vrydagaand bygewoon het, het vir Stefan ’n lelike opstopper gegee terwyl die sanger besig was om CD’s te teken.

Stefan, ook bekend as dr. Gustav Kemp in die Afrikaanse sepie Binnelanders, het ewe moedig dié blou oog gewys op ’n foto wat hy op Elvis se Seun se Facebook-blad gedeel het.

In ’n inskrywing op Elvis se Seun se Facebook-blad het Stefan al sy aanhangers in Sasolburg bedank dat hulle so ongelooflik was tydens hul vertoning.

Maar daar was net die één man wat die vertoning versuur het.

“Vanaand is De La Rey nie die enigste een met ’n sonbril op die verhoog nie,” skryf Stefan.

“Selfs by ’n Elvis se Seun-show kan iemand jou met ’n onverwagse vuishou van die kant af pot terwyl jy halftyd CD’s teken.

“Jaloesie..? Of dalk het ek nie sy CD mooi geteken nie..? Ons weet nie.. MAAR, the show must always go on!

Soos ’n wafferse kanniedood het Stefan ’n ysblokkie op die oog gesit en voortgegaan met die tweede ronde van sy vertoning.

“Ten spyte van die bietjie drama het ons ’n lekker show verder gehad te danke aan almal se gees en gasvryheid.

“Maak nie saak wat nie, niks stop ons Boere-rockers nie.”

Tog laat Stefan hom nie deur ’n blou oog onderkry nie. Die groep het weer Saterdag die pad gevat Vaalwater toe waar hulle by dié dorp in Limpopo se Boeredag opgetree het.

“Verskoon maar die sonbrille vanaand, vrinne,” skryf Stefan.

Lewendige debat ter ondersteuning van Elvis se Seun is op die groep se Facebookblad gevoer.

Ene Des Denman het geskryf: "Onopgevoede mense moet liewers tuis bly....en so lyk hul!! Ja, xxxx, hoop iemand erken jou en dat jy so skaam kry dat jy nie weer jou gesig êrens sal wys!! Sies man!!

Joanne du Plessis het laat weet: "Ag nooit, dit is regtig vieslik. So ou kort ’n fluiter teen die oor. Ek belowe jou as daai ou sy storie probeer het op Vaalwater het hy baie erger gelyk, met Valies se boere mors jy nie en ook nie hulle gaste nie! Geniet julle show vanaand!"

Chrissie Wentzel Smuts sê: "Defnitief jaloesie!!!! Jy het gerock gisteraand. Jyt ’n awesome verhoogpersoonlikheid. Sulke mense wat ons dorp se naam slegmaak. Almal weet nou hoe hy lyk en glo nie die saak gaan net daar bly nie. Ons het jou baie geniet, en ek het lekker met jou gedans!!!

Annelien Nolte van Basten het laat hoor: "Dis goor en onaanvaarbaar. Julle show was awesome - soos altyd - en daar is en was geen rede vir sulke swak gedrag nie. Jy was nog altyd net bedagsaam, vriendelik, professioneel en respekvol teenoor jou aanhangers en die media. Geniet die show in Vaalwater, weet julle sal rock!