Die bedrywige ster wou nie die kans laat verbygaan om ’n sê te hê oor wie Amerika se volgende leier is nie; dus het hy verlede Sondag ná die première van Trolls in Los Angeles na sy tuiste in Memphis, Tennessee, gevlieg om te stem.

Hy het Maandag op Instagram ’n foto gedeel waarop hy besig is om te stem. Die byskrif het gelui: “Geen verskonings nie, my liewe mense! Jul dorp het moontlik ook die geriewe om vroeg te stem. Indien nie, 8 November! Kies om ’n stem te hê! As julle dit nie doen nie, kan ons julle nie hoor nie! Gaan stem!”

justin stem

Sy kiekie kan egter moeilikheid beteken vir die pligsgetroue Justin; in Tennessee verbied die wet kiesers om foto’s te neem of gesprekke op te neem terwyl hulle stem. Oortreders kan 30 dae in die tjoekie deurbring en ’n boete ook kry.

En die wetmakers van die Shelby-distrik beskou Justin se optrede in ’n baie ernstige lig. ’n Bron na aan die distriksprokureur het aan die skinderwebtuiste TMZ gesê die saak “word ondersoek”.

Die wet is verlede jaar goedgekeur en as die beamptes besluit om Justin te straf, sal hy die eerste mens wees wat vervolg word. Nadat Justin gestem het, het die ster saam met nog ’n kieser, Susan Jones, poseer en sy het die kiekie aanlyn geplaas.

Dis nie ’n groot geheim vir wie die sanger gestem het nie; hy is al maande lank ’n uitgesproke ondersteuner van Hillary Clinton van die Demokratiese Party.

Justin en sy vrou, die aktrise Jessica Biel, het in Augustus vanjaar ’n geldinsameling ten bate van haar veldtog gehou. Hulle het ingestaan vir Leonardo DiCaprio, wat weens ’n besige program moes kop uittrek.

Die voormalige presidentsvrou en minister van buitelandse sake kom by die stembus te staan teen Donald Trump van die Republikeinse Party.

© Cover Media