Die ultramarathon-veldloper Ryan Sandes en sy aktrise-vrou, Vanessa Haywood, is ’n pienkvoet ryker!

Dié atletiese superpaartjie het gisteraand (Maandag) in die sosiale media hul babaseuntjie, Max, se aankoms aangekondig.

Ryan is bekend vir uitmergelende veldwedlope, soos die Transgrancanaria-wedloop wat oor 125 km strek. Hy het dié wedloop in 2014 gewen. Sy vrou is bekend vir haar rol in die Neil Blomkamp-rolprent District 9.

Volgens Ryan is die kleinding, Max, genoem na Vanessa se oupa, wat onlangs oorlede is. “Sy was baie lief vir haar oupa,” sê Ryan.

“Ek dink sy naam Max is ook baie gepas aangesien hy by geboorte ’n allemintige 4 kg geweeg het.” Hy sê ook hulle is baie opgewonde dat dit ’n seuntjie is.

“Hy het klaar ’n harige, viervoetige sussie, genaamd Thandi,” skerts hy. Thandi is die familie se geliefde hond.

Ryan sien baie daarna uit om saam met sy seuntjie op avonture te gaan en hom saam te vat op reise wanneer hy in die buiteland meeding. Maar gaan Ryan van dié kleinding verwag om ook so atleties soos sy pa te wees? Darem nie, sê die trotse pa.

“Ek sal nooit verwag dat hy in my voetstappe moet volg nie. “As hy ’n ballerina wil wees of klavier wil speel sal ek baie bly wees vir hom. “Ek sal natuurlik dit geniet om saam met hom in die berge te gaan fietsry of te gaan draf, maar dit is vir my belangriker dat hy gelukkig is en sy drome en passies uitleef.”

Our little family of 3 will soon become 4... ?? ? @craigkolesky #love #sunset

A photo posted by Vanessa Haywood-Sandes (@vanhaywood) on