’n Herrie het buite ’n bekende meisieskool in Pretoria losgebreek omdat skoolreëls glo natuurlike haarstyle soos afro’s, rastalokke (dreadlocks) en vlegsels verbied en daar na bewering ook op ander maniere teen swart leerders gediskrimineer word.

Teen Maandagoggend het meer as 6000 mense reeds ’n aanlynpetisie onderteken wat vra dat die onderwysdepartement dringend aandag gee aan Pretoria Girls High in Hatfield se beweerde drakoniese beleid en stappe neem teen skoolpersoneel wat teen swart en Moslem-leerders diskrimineer. “Meisies by die skool word gedwing om hul hare reguit te dra en word van sameswering beskuldig wanneer hulle in groepe staan. Hulle moet ook onuithoudbare opmerkings en gedrag duld,” lui die petisie, wat deur Koketso Moeti geloods is. Volgens Koketso se Twitter-profiel is sy ’n ma en ’n "politiese-weeskind". Van die meisies beweer ook dat hulle by die skool verbied word om hul huistale te praat en dat hulle glo ‘te hard’ praat.
Hope betogers het ook Maandagoggend buite die skool saamgedrom, maar die skare het glo rondom half-nege begin bedaar, het die skool per telefoon aan Huisgenoot gesê.
"Ons kan ongelukkig nie in hierdie stadium kommentaar lewer oor die situasie nie. Die skoolhoof sal later vandag ’n volledige reaksie namens die skool bekendmaak,” het die skool se administrasiekantoor gesê.
Aanlyn was die hutsmerk #StopRacismAtPretoriaGirlsHigh Maandagoggend een van die gewildste gesprekspunte op Twitter en die DA se Mmusi Maimane het hom ook sterk teen die beweerde diskriminasie uitgespreek.
Huisgenoot kon in hierdie stadium nog nie Panyaza Lesufi, die LUR vir onderwys in Gauteng, vir kommentaar bereik nie. Hy het wel op die radioprogram 702Live gesê “ons kan nie toelaat dat dié soort situasie ongehinderd voortgaan nie. Ek is nie seker oor die petisie nie, maar gaan die skool vanoggend besoek.” Hy het ook op Twitter sy ondersteuning aan ouers en leerders wat die skool aanvat uitgespreek.