Adriaan Bergh vier vandag (22 Mei) sy 30ste verjaardag ’n week en ’n dag nadat sy vroulief, Melinda Bam, op 14 Mei 28 jaar oud geword het.

En Adriaan se groot drie-nul word omtrent met lekkerte gevier!

Die voormalige Mej. Suid-Afrika (2011) het die laaste paar dae by foto’s van haar en Adriaan, wat in dieselfde jaar Mnr. Suid-Afrika was, op Instagram laat hoor hulle vier Adriaan se verjaardag in die Maledive-eilande.

Die paartjie het ook ná hul troue in November 2014 vir hul wittebrood hierdie pragtige eilandgroep besoek.

Behalwe vir die pret in borrelbaddens en heerlike mengeldrankies het Adriaan ook teruggekeer na sy geboortepakkie deur sonder enige klere in die Maledive se deursigtige water te spring. Hy het by die foto van dié kaalbassprong op Instagram laat hoor hoe dankbaar hy oor sy mylpaalverjaardag is.

“Vandag vier ek my 30ste verjaardag. Ek dank die Here vir ’n liefdevolle vrou, familie en vriende. Ek is opreg dankbaar vir al my seëninge en oor waar ek myself vandag bevind. Doelwitte, drome en guns het ’n groot rol in my lewe gespeel met deursettingsvermoë as die sleutelfaktor. Die beste kom nog, tesame met groot hoeveelhede pret!”

adriaanbergh

Melinda het ook op Instagram ’n roerende inskrywing gemaak om haar man geluk te wens en te vertel hoe dankbaar sy is om hom in haar lewe te hê.

Adriaan se gelukwense aan sy vrou ’n week tevore was ewe roerend. Hy het veral beklemtoon hoe baie hy Melinda se positiewe uitkyk bewonder.

Geniet al die spesiale vierings, Melinda en Adriaan!