.

Anel het gister die nuus op Facebook en in haar heel eerste blog op haar webtuiste bekendgemaak. Hierin vertel die Sink-aktrise dat sy, haar man, James, en hul hondekinders Los Angeles toe verhuis het. “Diegene na aan ons weet die besluit is nie oornag geneem nie,” skryf sy.

“Dit het drie, vier jaar se beplanning, besluitneming, opoffering, baie werk, prokureursonkoste en baie tyd en inspanning geverg om dit te laat gebeur.”

Hulle het in April vanjaar hul groenkaarte vir Amerika gekry en sowat ’n maand later besluit om hul lewe op te pak en oorsee te verhuis, verduidelik Anel.

“Ek kan nou al hoor hoe julle vra (soos die oulike Afrikaanse meisie wat ons by die O.R. Tambo-lughawe ingeboek het): 'Hoekom? Hoekom trek julle? Wat van die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf?’ Maar ironies genoeg is dit presies hoekom ons weggaan, sodat ons kan aanhou tot die Suid-Afrikaanse bedryf bydra,” skryf sy.

“Ons het nie sterre in ons oë nie,” sê Anel. “Ons verwag nie Steven Spielberg gaan in ’n restaurant ons trompop loop en in sy volgende fliek sit nie.” Maar hulle was die afgelope drie jaar twee keer in Los Angeles en het hul navorsing behoorlik gedoen.

“Ons het baie vriende hier wat onskatbare raad aangebied het en deur wie se ervarings ons geleer en gesien het hoe moeilik dit is om ’n akteur in Los Angeles te wees. Ja, daar is baie meer geleenthede hier, maar daar is ook baie meer mense wat baklei vir dié geleenthede,” skryf sy in haar blog.

“Ons is lief vir Suid-Afrika. Ons familie en vriende is daar en ons sal altyd terugkom. Wie weet, selfs dalk gouer, aangesien ons niks het om aan enigiemand te bewys nie en ons te oud is om goed te doen wat ons ongelukkig maak. Maar vir nou het ons afgesit op ’n nuwe avontuur.”

Talle bekendes in die plaaslike vermaakbedryf, waaronder Die Boekklub-akteur Armand Aucamp het die paartjie op Facebook gelukgewens met die nuus. “Baie, baie seën vir julle twee!” het die Modder en Bloed-aktrise Barbara-Marie Immelman op Facebook geskryf. Sy kan skaars wag om Anel en James op die rooi tapyt daar te sien. Ons ook. Ons hou saam duim vas vir julle twee.