Nikki Reed (29) en Ian Somerhalder (38) het ’n babadogtertjie, Bodhi Soleil, verwelkom. E!News het bevestig dat die kleinding op 25 Julie gebore is.

Die paartjie het in Mei aangekondig hulle verwag ’n baba. Nikki se inskrywing in die sosiale media lui: "Haai, kleinding. Ek ken jou, maar net omdat ek jou kan voel. Hoe is dit moontlik om iemand reeds so lief te hê? Al wat ek vir seker weet, is dat dit die sterkste gevoel is wat ek al ooit gevoel het. 

"Ons deel nou al ’n liggaam vir ’n geruime tyd en ons het reeds so baie ervaar. Ons kan nie wag om jou te ontmoet nie. Liefde, jou ouers."

Die Vampire Diaries-akteur het ook natuurlik die groot nuus met sy aanhangers gedeel: "Ek het nog nooit iets so kragtig en mooi ervaar nie. Ek kan aan niks meer opwindend dink as die volgende hoofstuk in ons lewe nie," skryf die ster op Instagram.

En nou kan die paartjie eindelik hul bondeltjie vreugde geniet.

Hulle is in April 2015 getroud. Nikki het onlangs aan FitPregnancy vertel dat sy, Ian en Bodhi eers tyd saam met mekaar gaan deurbring en vir ’n maand uit die publiek se oog sal bly. 

Aanhangers sal maar moet wag vir ’n foto van die bondeltjie vreugde.

Baie geluk, julle!

Bronne: E!News, DailyMail, Hollywoodreporter.com, FitPregnancy.com