“Ek het gestaan en kyk hoe my hele lewe voor my wegbrand,” vertel Gert Claasen (46) moedeloos oor die vlammesee wat Maandagaand (16 Januarie) sy huis en alles daarin verwoes het.

leeumanmain

Lesers ken Gert as die boer met die leeuwelpie-huismaats (Brul-jante vriende my katjies, April 2016) op Steilfontein, sy plaas tussen Petrus Steyn en Heilbron in die Oos-Vrystaat.

Al wat nou van sy huis oor is, is die nagklere wat hy tydens die ramp aan sy lyf gehad het, ’n stel antieke eetkamerstoele en sy troetel- en wildediere.

img-20170118-wa0003

Gert sê hy het die aand in sy TV-kamer aan die slaap geraak en teen 21:40 skielik wakker geword van ’n rookreuk. Hy het dadelik kombuis toe gedraf om te gaan kyk of hy dalk die stoofplaat aan vergeet het. In sy haas daarheen het hy ’n rookwolk uit die rigting van sy slaapkamer sien kom.

“Daar was net vlamme,” vertel hy.

Hy het eerste sy drie Italiaanse windhonde en twee worshondjies uit die huis gered, gevolg deur die twee rooikatte wat ook in die huis was.

img-20170118-wa0007

Hy het ’n buurman gebel, wat toe saam met 20 ander boere by die plaas opgedaag het om te kom help. Maar weens die sterk oostewind kon hulle net magteloos staan en kyk hoe die vlamme die huis verteer.

Terwyl Gert nou wag dat die versekeraars die skade evalueer, woon hy in die woonstel op die werf.

Volgens hom is die huis vir meer as R5 miljoen verseker, maar hy is veral hartseer oor die sentimentele verlies. “Ek woon al my hele lewe in hierdie huis”. Sy pa, Petrus Claasen, wat amper vyf jaar gelede oorlede is, het die huis in 1978 gebou.

img-20170118-wa0004

“My pa was vreeslik lief vir hout,” vertel Gert oor die plafon van embuia-hout wat sy pa laat insit het, die einste houtplafon wat tot die vinnige verspreiding van die vuur bygedra het.

Van die sentimentele goedere wat saam met die huis verkool het, is sy ma se trourok en sy pa se handgeskrewe boeke. Volgens Gert het die brand moontlik weens ’n kortsluiting in sy slaapkamer ontstaan.