Zhaun Ahmed, die eienaar van Zhauns in Woodstock, is na bewering rondom 17:40 deur drie onbekende mans genader.

’n Ooggetuie het aan Tammy Koeberg van Bush Radio gesê Zhaun en sy motorbestuurder was besig om goedere in die voertuig se kattebak te pak.

’n Dubbelkajuitbakkie het agter hul motor ingetrek, waarna die insittendes Zhaun met ’n vuurwapen gedreig het. Hy is in hul voertuig ingedwing, waarna hulle in die rigting van Victoriastraat, Woodstock, gery het.

Die bakkie is later verlate in dieselfde straat gevind.

Dit is nog nie bekend waarom Zhaun ontvoer is nie.

Zhaun is reeds meer as 40 jaar ’n gevestigde maatskappy wat in die verskaffing van masjinerie vir kleinhandelondernemings en entrepreneurs spesialiseer.

Ooggetuies of diegene wat meer inligting kan verskaf, word versoek om ao. David Miles by 021 486 2840 of Crime Stop by 08600 10111 te skakel.

Bronne: news24.com, iol.co.za