Die aktrise Gal Gadot is swanger met haar tweede kind. Die ster van die fliek Batman v Superman: Dawn of Justice het die gelukkige nuus Sondag op Instagram gedeel.

A photo posted by Gal Gadot (@gal_gadot) on

“Ek is op opgewonde om dit met julle te deel . . . #mommyforthesecondtime,” het sy saam met ’n foto van haar en haar man met hul hande wat ’n hartjie oor haar maag vorm, geskryf.

Die 31-jarige aktrise is in 2008 met die Israeliese eiendomsontwikkelaar Yaron Varsano getroud en hul eersteling, Almal, is in 2011 gebore.

Gal het vroeër in 2016 gepraat oor die “Joodse skuldgevoelens” wat sy ervaar het as sy vir werk moes reis.

“Prioriteite,” het sy aan die tydskrif Glamour gesê oor wat verander het toe Alma gebore is.

“Ek het begin om beter te kies waarvoor ek baklei. Die Joodse skuldgevoelens wat ek kry omdat ek ’n werkende mamma is, is die moeilikste ding.

“Ek het al beter geraak,” het sy vertel. “Toe Alma twee was, was ek baie angstig oor hoe om met ’n kind te reis, om met haar van een land na die ander te gaan en al die verskillende tale. My man het toe vir my gesê: ‘Gal, dink aan watter soort rolmodel jy wil wees. As jy vir Alma wil wys sy kan haar drome navolg, is dit wat jy moet doen en ons sal die res uitpluis’.”

En haar nuwe rol as Wonder Woman maak haar trots dat sy vir haar dogter kan wys daar is sterk vroulike superhelde.

“In meeste van die flieks is die mans in beheer en is die mans die magtigstes,” het sy aan Entertainment Weekly gesê.

“Jy’t al Superman en Batman en almal gesien, maar nog nie vir Wonder Woman nie. Ek is so bly dat sy grootword met ’n vroulike figuur wat haar kan inspireer.”

– Cover Media