Thembinkosi Fandaleki (54) is laat Maandag dood nadat die motor wat hy bestuur het teen ’n gebou ’n paar honderd meter van Mthatha se klusterpolisiekantoor af gebots het. 

Die Metodiste-biskop was reeds in sy borskas geskiet voor hy teen die gebou vasgery het, het Mzukisi Fatyela, woordvoerder van die Oos-Kaapse polisie aan News24 gesê.

Fandaleki was ’n geesdriftige kampvegter vir gemeenskapsontwikkeling.

“Ons vermoed hy het van iets af probeer wegry na die hospitaal toe toe hy beheer oor sy voertuig verloor. Hy kon bewusteloos gewees het weens die bloedverlies, wat tot die ongeluk gelei het,” sê Fatyela.

Hy sê ’n moordsaak is geopen, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie. 

Die Oos-Kaapse premier, Phumulo Masualle, het Woensdag gesê Fandaleki was ’n geesdriftige kampvegter vir gemeenskapsontwikkeling. 

“Eerwaarde Fandaleki het die belangrikheid van die morelevernuwingsbeweging onder ons gemeenskappe laat herleef, nie net in Mthatha, waar hy gewoon het nie, maar oor ons provinsie heen,” het Masualle in ’n verklaring gesê.

Die Metodistekerk van Suider-Afrika sê hulle is “diep geskok” oor die moord.

“Ons verwag die polisie sal hul ondersoek met die nodige spoed uitvoer, maar geen steen onaangeraak laat om die skuldiges aan hierdie misdaad aan te keer nie.” 

Die Metodistekerk van Suider-Afrika sê hulle is “diep geskok” oor die moord op Fandaleki en vra gemeentelede moet in hierdie “ontstellende tyd” vir sy familie bid. 

Die begrafnisreëlings moet nog bevestig word, het die kerk op Facebook gesê.

Bron: News24