Terwyl hy gewerk het aan Sully, wat handel oor die loods Chesley Sullenberger se veilige noodlanding op die Hudson-rivier, het hy onthou hoe bang hy daardie dag was.

Clint het voorheen aan die tydskrif Parade vertel hy was eenkeer op ’n vlootvliegtuig wat aan die Kaliforniese kus ’n noodlanding moes maak.

“Ek ken die angs as die enjins dood is en jy op die water afstuur.”

In ’n nuwe onderhoud met WENN het hy vertel van die oomblik toe die vliegtuig langs die kus van San Francisco neerstort en sink. Clint was in ’n radarhokkie aan die agterkant van die vliegtuig vasgegespe toe dit neerstort.

“Die weer was baie sleg toe ons opstyg en ons het allerhande probleme gehad toe die suurstof opraak,” het hy aan die nuusagentskap gesê.

“Ons het San Francisco eindelik bereik en was op pad na die Almeda-lugmagbasis. Dit was baie stormagtig. Die radio’s het nie gewerk nie, so die vliegtuig het uitgewyk see toe. Eindelik was daar ’n gat in die wolke waardeur jy die Golden Gate-brug op die agtergrond kon sien.”

Nadat Clint gehoor het die loods bespreek tegniese probleme, het hy hom vasgegespe vir wat hy gevrees het ’n stamperige reis sou wees. Kort daarna het die enjin gestaak en het die vliegtuig in die yskoue water beland.

“Ons het die water getref en nogal erg rondgebons, baie soos wat die vliegtuig in Chesley se geval gemaak het. Toe begin die vliegtuig sink,” onthou Clint.

“Ek het my losgegespe om uit te kom. Die vliegtuig se neus het ondertoe gewys, maar dit het groot vlerkklappe gehad en ek het op een van hulle gestaan. Die loods het uit die kajuit gekom en gesê: ‘Wat dink jy?’ Ek het geantwoord: ‘Dit lyk of ons gaan swem.’

“Toe spring ons in die water en begin strand se kant toe beweeg. Toe ons eindelik daar kom, het albei gedink die ander een het verdrink, want die golwe het veroorsaak dat ons kontak met mekaar verloor het. Ek het begin duimgooi en by ’n heruitsaaistasie op ’n krans naby Bolinas, Kalifornië, uitgekom.”

Die noue ontkoming was nuttig toe Clint die Hudson-tonele moes verfilm.

“Dit was ’n interessante besluit om hierdie rolprent te regisseer,” spot hy. “Ek dink ek het soveel geweet soos ’n mens kan.”

© Cover Media