Bart Bartmann (37), die eienaar van ’n skermsweefskool in die noorde van Pretoria, het Sondag in ’n skermsweefongeluk gesterf.

Romano van der Spuy, woordvoerder van die Hartbeespoortdam-gemeenskapspolisiëringsforum, het aan Die Kormorant gesê die vermoede bestaan dat ’n onverwagse wind hom ongeveer 16:30 Sondagmiddag onkant betrap het kort nadat hy van die berge agter die African Swiss-restaurant op die R512 in Broederstroom opgestyg het.

Sy tuig het begin spiraal en Bart het die grond getref. Hy is op die toneel dood verklaar.

Op sy Facebookblad het hy homself ook as ’n gewese persoonlike lyfwag vir Gerhard Steyn beskryf. Bart het ook as 'n bokser in Gerhard se Pennies en Ponde-musiekvideo verskyn.

Gerhard het dié roerende huldeblyk aan Bart op sy eie Facebookblad gedeel.

"Vriend, broer, tjom . . . RUS IN VREDE ek gaan jou mis Bart. Jy't my lewe ingekleur met broederskap en vriendskap. Saam het ons al 'n paar noue adrenalien-ontkomings gehad. Ek is jammer ek was nie daar saam met jou vandag nie. Ek gaan jou mis my maat! Lief jou, pella. Jy bly 'unstoppable' . . ."

By die plasing het Gerhard ook gesê: ”My vriend en broer is vanmiddag in 'n valskermongeluk oorlede. Hy het in een van my eerste video's, Pennies en Ponde, die rol van 'n bokser vertolk.. My hart is gebreek. Ek het nie woorde nie . . . My innige meegevoel aan Bart se familie en ander vriende. Die wat hom geken het, weet dat hy altyd voluit gelewe het."

Gerhard se broer Ben sê: “Bart was (en is) my broer se beste vriend en meer. Tjom, ek salute jou vanaand vir die Pel, vriend en 'broer' wat jy vir G was. Mag jy net so 'unstoppable' wees waar jy nou is. Respect!”

Ene Norman de Villiers het daarby genoem dat hy en Bart nog die dag vantevore saamgekuier het. Hy noem hom ’n “pel duisend. Die beste van die beste!”

Huldeblyke

Bronne: rekordcenturion.co.za, kormorant.co.za