Lizz Meiring, of Bizzie Lizzie, soos sy ook bekend staan, is ’n bondel energie wat altyd ’n nuwe projek op die horison het. En hoewel haar donker krullebol sinoniem is aan dié aktrise en skrywer, is dit tyd vir iets nuuts.

Lizz meen dit is tyd om haar bruin hare vir ’n blonde kapsel te verruil. “Ek was sommer net lus vir ’n verandering,” verduidelik sy. “My haarkapper het gister vir my gevra of dit (die ligter hare) vir my vreemd voel. Maar toe sê ek vir hom ek is ’n aktrise en ek is gewoond daaraan om anders te lyk, want ’n mens moet mos ’n verkleurmannetjie wees.” Sy is nie bekommerd dat die blonde kapsel haar werk gaan beïnvloed nie. Want, sê sy, sy dra dikwels pruike vir haar rolle en besit ’n hele klomp.

A post shared by Lizz Meiring (@lizzmeiring2) on

“Ons verfilm nie altyd in volgorde nie, so goeie pruike help met die kontinuïteit, dit beteken jou hare kan deurgaans dieselfde lyk. Dit is ook baie minder moeite en dit spaar jou hare (van al die verskillende haarprodukte). Die pruike is van ongelooflike gehalte,” sê Lizz.

“In die fliek Hoener Met die Rooi Skoene het ek ’n pruik gedra.”

Lizz gee glad nie om om oor haar pruike te praat nie.

“Daar is soveel vroue wat chemobehandeling ondergaan en dalk selfbewus voel. Ek hoop hulle kan dit as ’n mode-item sien. Ek wil hê hulle moet weet dit is oukei om ’n pruik te dra.”

Sy sê mense komplimenteer haar dikwels oor hoe mooi haar hare lyk. “En dan is dit eintlik ’n pruik,” sê sy laggend.

Lizz het al in Februarie op haar Facebookblad verklap dat sy ’n plan in die mou voer om haar voorkoms ’n bietjie te vernuwe. Haar hare was ná ’n sessie in ’n Johannesburgse haarsalon reeds ietwat ligter.

’n Paar weke later was dit duidelik dat ’n nuwe haarkleur Lizz ze voorland is.

“Eric Müller – beroemde sangonderwyser en opera mentor – ’n wyse man, het altyd gesê ’n mens moenie vashaak in ’n vorige era waar jy goed en sterk en mooi gevoel het nie. Jy moenie stagneer in jou menswees nie – nie emosioneel, intellektueel, kreatief, professioneel of fisiek nie. Tyd vir verandering – in elke opsig,” het sy by ’n foto van haar en haar haarstilis, Quinton Lerena, geskryf.

En nog ’n paar weke later is Lizz al amper heeltemal blond.

“Ons doen dit maar geleidelik en baie versigtig. Anders gaan dit lyk of jy ’n strooidak op jou kop het.

“Ek moet nog vir een sessie by die salon gaan.”

Blonde hare is niks nuuts vir die talentvolle en veelsydige Lizz nie. Sy was al meer as een keer in ’n blonde pruik voor die kameras en op die verhoog.

Van brunet na blond? Hoe maak ’n mens?

Moet eerder nie tuis probeer om jou donker hare ligter te kleur nie, sê Quinton.

“Gaan liewer na ’n professionele salon en gesels met jou stilis oor wat jy wil bereik en wat jou verwagtings is.”

Hy sê dit is ’n stadige proses en jy moet probeer om jou hare net twee skakerings op ’n slag ligter te maak.

“As jy dit te vinnig doen, gaan jy jou hare beskadig,” sê hy.

“As jou kleur lig genoeg is, sit baie sonstrepe in vir ’n natuurlike voorkoms en om weg te kom van ’n soliede kleur.”

Quinton sê dit is belangrik om geduldig te wees.

“Dit is ’n proses wat nie afgejaag moet word nie. Die proses duur ook ’n rukkie in die salon. Maak dus seker jy het genoeg tyd.”

“Gebruik professionele produkte om jou hare tuis te versorg en ’n silwersjampoe om te keer dat jou hare nie geel word nie.”