Die Springbok- en Blou Bul-losskakel Handré Pollard (23) is omtrent in die sop nadat hy Maandag (22 Mei) ’n foto van sy jagtrofee, ’n springbok, op Instagram gedeel het.

A post shared by Handre Pollard (@handrepollard) on

In die foto sit ’n glimlaggende Handré in die veld by ’n springbok wat hy pas geskiet het. Daarby skryf hy: “Goeie naweek in die bos met goeie vriende”.

Sommige aanhangers het nie doekies omgedraai nie en gesê hulle sal hom nie meer op Instagram volg nie en een se kommentaar was “geen wonder jy het soveel beserings nie”.

“En jy noem jouself ’n Springbok,” het ’n ander aanhanger onderaan die foto geskryf.

Die foto het meer as 3 000 trefslae gekry en byna 50 kommentaar-inskrywings uitgelok.

Handré sterk tans aan ná ’n operasie aan sy regterenkel en sal vir 10 weke van die veld af wees.

Hy het die operasie in April ondergaan en sal na verwagting nie in Junie vir die Springbokke se toetsreeks teen Frankryk uitdraf nie.

Teen die tyd wat Handré Huisgenoot.com se kommentaar op die heftige reaksie beantwoord het, het hy reeds die inskrywing van die sosialemediaplatform verwyder. “Ek het maar eerder die foto afgehaal. Wou niemand onstel nie,” het hy per WhatsApp aan Huisgenoot.com gesê.