Deur die jare het die twee se lewensverhaal mense se verbeelding aangegryp. Riaan was die eerste avonturier om met ’n fiets om Afrika te ry en met ’n kajak om Madagaskar en Ysland te seil. Die twee het in 1999 ontmoet maar Vasti sou eers in 2013 eerstehands uitvind in watter lewensgevaar haar geliefde hom so gereeld bevind toe hy vir haar New York gaan “wys”. Sy moes saam met hom roei om daar te kom.
Hul laaste uitmergelende avontuur was hul wittebrood – maar ’n wittebrood met ’n baie groot kinkel. Die spane is weer nadergehark en die twee moes dié keer met Honeymoon die 4 000 km vanaf San Fransisco na Hawaii roei.
Nou lê die derde – en gewis die grootste, lekkerste en uitdagendste – uitdaging vir die twee voor: ouerskap! Riaan het skertsend op Twitter aangekondig dat Vasti vanweë al die regte redes nie vanjaar die uitmergelende Cape Epic-bergfietsren saam met hom kon doen nie omdat hulle in Oktober drie Mansers in die huis gaan wees.
Sy spanmaat vir die epiese kompetisie is Denzyl O'Donoghue.