“Die eerste keer was dit my maat; die tweede keer deur die eienaar van ’n kroeg.” So skryf die aktrise Evan Rachel Wood (29) in ’n biegbrief oor haar verkragting ná ’n onderhoud met die tydskrif Rolling Stone. Tydens die onderhoud het sy aan die verslaggewer genoem sy het fisieke, sielkundige en seksuele mishandeling ervaar, maar wou nie daarop uitbrei nie.

“Die eerste keer was ek onseker of dit verkragting is – as jou maat dit aan jou doen. Maar dit was steeds verkragting. En wie sou my glo?

“Die tweede keer het ek gedink dis my skuld en dat ek sterker moes terugbaklei, maar ek was bang.

“Dit was lank gelede en natuurlik weet ek nou dat nie een van die twee my skuld was nie en dat dit beslis nie oukei was nie.

“Dit het alles gebeur voor ek probeer het om myself om die lewe te bring. Daar het jy dit.”

Evan het haarself om die lewe probeer bring toe sy 22 jaar oud was. Sy bestempel dit as “die beste-slegste ding wat ooit met my gebeur het -- omdat dit nie gewerk het nie”.

Evan wou aanvanklik nie haar ervaring deel nie omdat sy nie wou hê dit moet ’n tranetrekker-storie oor haar word nie. Maar sy het besef dit wat gebeur het, het vandag nog ’n invloed op haar lewe.

Sy erken sy was bang vir beskuldigings dat dit bloot aandagsoekery kon wees. Of dat dit nie juis ’n ernstige saak is nie. Of dat dit nie regtig verkragting was nie.

“Ek glo nie ons leef in ’n tyd waarin mense nog kan stilbly nie. Ek kan nie.”

Sy voel sterk daaroor dat verkragting nie bloot onder die mat ingevee moet word nie.

“Ek sal dit nie as normaal aanvaar nie.

“Ek staan nog. Ek leef. Ek’s gelukkig. Ek’s sterk. Maar ek’s nog nie oukei nie.”

Sy noem ook dat dit mense moet herinner van die skade wat aangerig is en hoe die trauma van ’n paar minute omskep kan word in ’n lewenslange bakleiery met jouself.

“Dis nie iets waaroor jy bloot kom nie. Dis net dat jy nooit weer dieselfde is nie. Of dalk het ek dit nog nie bereik nie.”

Evan het tydens die onderhoud ook haar hart uitgepraat oor haar familie en vriende wat haar biseksualiteit as “iets onnosel of iets om aandag te trek” afgemaak het. Ander het dit as bloot ’n fase afgemaak.

Sy het vertel sy het eers besef hoe skadelik dit is dat mense biseksualiteit met minagting behandel toe sy probeer om gesonde verhoudings as ’n volwassene te hê. “Ek dink mense het my uitgebuit omdat iemand iewers iets geweet het wat hulle daarvoor sou kon inspan.”

Sy beskou die geboorte van haar seun met haar eksman Jamie Bell in 2013 as ’n keerpunt in haar lewe.

“Ek het my seun gehad en dit het alles verander.”

Tien kitsfeite oor Evan Rachel Wood

1. Evan was vyf toe sy ’n filmtoets teen Kirsten Dunst aflê vir die hoofrol in Interview with the Vampire: The Vampire Chronicles (1994). Die rol het eindelik aan Kirsten gegaan.

2. Sy het in die televisiereekse American Gothic (1995–1996) en Once and Again (1999–2002) gespeel.

3. Sy was net nege jaar oud toe sy die hoofrol in Digging to China (1998) vertolk het. 4. In dieselfde jaar verskyn sy ook in die fliek Practical Magic saam met Sandra Bullock en Nicole Kidman. 5. In 2002 vertolk sy die rol van Al Pacino se dogter in die komedie S1m0ne. 6. Evan word vir ’n Golden Globe benoem vir haar rol as die dwelmverslaafde tiener Tracy Louise Freeland in die fliek Thirteen (2003). 7. Ander indie-flieks volg: Pretty Persuasion (2005), Down in the Valley (2006), Running with Scissors (2006) en Across the Universe (2007). 8. Hoofstroomflieks sluit in: The Wrestler (2008), Whatever Works (2009) en The Ides of March (2011). 9. Evan keer terug kassie toe in die ondersteuningsrol van Queen Sophie-Anne in True Blood (2009-2011), Kate Winslet se dogter in Mildred Pierce (2011), wat haar ’n benoeming vir ’n Golden Globe en ’n Emmy besorg vir die beste aktrise in ’n ondersteunende rol. 10. Vanjaar vertolk sy ook die rol van die androïed Dolores Abernathy in die gewilde televisiereeks Westworld.

Bronne: rollingstone.com, people.com, wikepedia.org, imdb.com

Organisasies wat kan help

1. FAMSA (landwyd): Bel 011 975 7101, e-pos national@famsa.org.za of gaan na www.famsa.org.za vir inligting en hulp. 2. Lifeline (24-uur): 0861 322 322. 3. POWA (People Opposing Women Abuse):083 765 1235 of gaan na www.powa.co.za vir meer inligting en hulp. 4.Legal Aid South Africa: 0861 053 425 of besoek www.legal-aid.co.za vir bystand 5. Rape Crisis: 011 642 4345/ 021 447 9762. 6. SA Polisie-noodnommer: 10111