Is dit jy, Emma Stone? In die bekroonde fliek La La Land laat die 28-jarige aktrise met haar vietse lyfie die koppe draai.

Maar kort nadat sy dié fliek verfilm het, moes sy 7 kg swaarder word vir haar rol as die voormalige Amerikaanse Wimbledon-kampioen Billie Jean King in haar nuwe rolprent, Battle of the Sexes. Sy het dié fliek verlede jaar verfilm en lyk boonop op ’n haar na die oudtennisster. “Ek het 7 kg se spiere aangesit. Ek het baie proteïenskommels gedrink en swaar gewigte opgetel,” het sy onlangs onthul. Ná verfilming het Emma dié ekstra spiermassa vinnig verloor.

Battle of the Sexes is gegrond op die wedstryd in 1973 tussen Billie Jean en Bobby Riggs (Steve Carell). Meer as 50 miljoen Amerikaners het voor hul kassie ingeskuif om daarna te kyk. Dis destyds “die stryd tussen die geslagte” gedoop.

Billie Jean was toe nommer twee op die wêreldranglys en 26 jaar jonger as Bobby, wat toe 55 was. Hy het volgehou hy sal haar klop, al is sy soveel jonger. Maar toe klop sy hom in drie stelle. Emma is nie al een wat al die vetjies laat aanpak of laat wegsmelt het vir rolle nie.

Christian Bale (43) het 29 kg verloor vir sy rol as ’n man wat aan slaaploosheid ly in die sielkundige riller  The Machinist (2004), terwyl Natalie Portman (35) 9 kg afgeskud het vir haar Oscar-bekroonde spel as ’n ballerina in Black Swan (2010).

Ons eie goue meisie, Charlize Theron (41), het 14 kg aangesit vir haar rol die fliek Monster (2003), wat haar ’n Oscar besorg het.

Ons sal maar moet wag en sien of Emma ook met ’n goue beeldjie bekroon gaan word vir haar spel in haar jongste fliek, wat glo in Mei uitgereik word.

BRONNE: ELLEUK.COM, HOLLYWOODREPORTER.COM, DIE BURGER