Die aktrise en aktivis Shailene Woodley is Maandag aangekeer vir oortreding nadat sy deel was van ’n protesoptog teen ’n omstrede pyplyn in Noord-Dakota.

shaileeW

Die ster van die fliek Divergent en The Fault in our Stars was Maandagoggend onder 100 betogers wat ’n vreedsame optog gehou het op die konstruksieterrein van die Dakota Access Pipeline in Sioux County, berig TMZ.com.

Die byeenkoms by Standing Rock het gebeur ’n dag nadat regters by ’n appèlhof ’n aansoek afgekeur het om die bou van die pyplyn te keer wat ru-olie vanaf Noord-Dakota na Illinois sal vervoer.

Die pyplynplanne is in omstredenheid gehul omdat dit inmeng met ’n heilige grondgebied en begraafplase van Amerikaanse Indiane.

Shailene het Maandag op Facebook ’n video gedeel van haar wat oppad is na Standing Rock en regmaak om te baklei. Sy’t by die video geskryf: “Terug by Standing Rock. Die Amerikaanse appèlhof het gisteraand ’n verbod verwerp om die bou van #DAPL te keer. Ons is nou op pad na die voorste linie.”

Sy en ’n aantal betogers is in hegtenis geneem ná ’n konfrontasie met owerhede. Sy is intussen weer vrygelaat.

Shailene veg al maande lank teen die Dakota Access Pipeline en het in Augustus by die Daredevil-aktrise Rosario Dawson by ’n protesoptog in New York aangesluit waar hulle tekens opgehou en met ander betoog het om die projek te keer.

Sy het ook video’s van hierdie betogings op Facebook gedeel. In een daarvan sê sy: “Ons moet saamstaan. Ons moet wakker skrik. Ons kan nie toelaat dat die brandstofbedryf oor mense in hierdie land loop nie, en veral nie die Amerikaanse Indiane nie.”

© Cover Media