Mel Gibson vier die geboorte van sy negende kind.

[caption id="attachment_155447" align="alignnone" width="600"]Mel en Rosalind op die rooi tapyt. Foto: WENN.com Mel en Rosalind op die rooi tapyt. Foto: WENN.com[/caption]

Die 61-jarige Braveheart-ster en sy meisie, Rosalind Ross (26), het hul eerste seun, Lars, op Vrydag 20 Januarie in ’n hospitaal in die Los Angeles-gebied verwelkom, berig die Amerikaanse nuusprogram Extra.

Die babanuus het middel September verlede jaar bekend geword en ’n bron het aan People.com gesê die paartjie was opgewonde oor die idee van ouerskap.

“Mel is dol oor pa-wees en hy en Rose kan nie wag om saam ouers te wees nie,” het die bron gesê. “Die afgelope twee jaar was van die gelukkigste wat hy nog gehad het.”

Die baba is Rosalind, ’n voormalige beroepsperderuiter, se eerste. Sy het vroeër dié maand op die Golden Globes-prysuitdeling se rooi tapyt met haar babamagie gespog.

Toe hy einde verlede jaar oor die naderende koms van die baba uitgevra word, het Mel aan Extra gesê: “Ek is net hier om te vang!”

Hy het aan die agentskap gesê hy is so gewoond aan geboortes dat hy nie eens meer senuagtig raak nie: “Ek dink my byniere is uitgeput, so ek reageer nie eens meer nie,” het hy laggend gesê.

Mel het onlangs ’n uitgerekte onderhoudstryd met sy eksmeisie Oksana Grigorieva geskik. Hulle is in 2010 uitmekaar en het ’n sewejarige dogter, Lucia.

Hy het ook sewe ouer kinders by sy eksvrou, Robyn – Hannah (36), ’n grimeerkunstenaar wat met die musikant Kenny Wayne Shepherd getroud is, die tweeling Edward en Christian (34), William (32), Louis (28), Milo (26) en die tiener Thomas (17).

Mel en Robyn is in 2006 ná ’n huwelik van 26 jaar uitmekaar. Hul egskeiding is in 2011 afgehandel en het Mel sowat R3,25biljoen gekos – indertyd die duurste egskeiding in Hollywood se geskiedenis.

– Cover Media