Intussen het Clint Eastwood se seun darem al gesig gewys in onder meer Suicide Squad en Fury. Scott (31) is binnekort te sien in The Fate of the Furious, die volgende aflewering van Fast and Furious.

A post shared by Scott Eastwood (@scotteastwood) on

Dis maklik om aan te neem so ’n beroemde van sou hom ’n hupstoot gee in die vermaakbedryf, maar dit was eintlik ’n struikelblok. “Ek het (Hollywood toe) gekom om iets te probeer doen, maar niemand het my ernstig opgeneem nie,” het Scott aan Men’s Health gesê. “Almal het my afgejak met woorde soos ‘jy’s Clint Eastwood se seun; jy’s nie werklik ’n akteur nie’. Sommige mense dink steeds so. Ek het regtigwaar nooit gedink ek sou in dié bedryf kon uithou nie, maar dit lyk tog of dit eindelik uitwerk.”

Terwyl dit swaar gegaan het met Scott, het sy “pa hom nooit ’n sent gegee nie. Ek moes self vir alles werk. Man, hy was hardvogtig, maar dit het my sterker gemaak en deursettingsvermoë gegee.”

In 2006 het die Oscar-bekroonde akteur en regisseur (86) sy seun wel ’n kans gegee deur hom in Flags of Our Fathers te laat speel.

Twee jaar ná Scott se silwerskermdebuut hierin was hy ook te sien in sy pa se fliek Gran Torino.

The Fate of the Furious begin vandeesmaand in Suid-Afrika draai. Franchise-gunstelinge soos Vin Diesel, Dwayne Johnson en Michelle Rodriguez is weer te sien, asook die nuwelinge Scott, Charlize Theron en Helen Mirren.

Dis die eerste keer sedert The Fast and the Furious: Tokyo Drift (2006) dat Paul Walker nie deel van die franchise is nie. Hy is in 2013 in ’n motorongeluk oorlede.

“Ek het Paul byna 15 jaar geken; hy was vir my soos ’n ouer broer en mentor,” het Scott gesê.

“Toe my agente die projek aanroer, was my eerste gedagte dat dit darem te ’n teer saak is. Hoe meer ek egter daaraan gedink het, hoe meer het ek gedink Paul sal afkyk na my toe en sê “Moenie ’n idioot wees nie; gaan doen dit net.”

© Cover Media