Die sanger en akteur Philip Moolman trou op 16 Desember. Die bruid is ’n lewensafrigter wat net so lekker soos Philip kan lag.

[caption id="attachment_148989" align="alignnone" width="600"]xx Philip Moolman saam met sy verloofde, Lurianne Bruwer. Foto: Sharon Seretlo[/caption]

“Dis my maat. Ek is so dankbaar ek het my maat gekry,” het Philip van die blonde Lurianne Bruwer gesê.

Die twee duifies was Maandagaand by die bekendstelling van die nuwe resepteboek Om die Kombuistafel met Bekendes. Die bekendstelling is by die Blou Hond-teater by die Casa Toscana Lodge in Pretoria gehou, van wie Philip die ambassadeur is.

Toe Huisgenoot Philip oor die groot dag vra, het hy met ’n glimlag gesê: “Hiep hiep hoera.” Dit sal Philip se derde huwelik wees. Hy was voorheen met die aktrises Anna-Mart van der Merwe en Susan Coetzer getroud.

Philip en Lurianne trou op Versoeningsdag in Groot-Brakrivier naby George. Die geleentheid word by ’n familiestrandhuis gehou.

“Ons gaan kuier soos gewoonlik. Almal gaan lekker kos maak. Ma bring een ding, skoonma bring een ding, die broers bring een ding. Ons gaan lekker oordadig wees,” vertel Philip.

“Daar gaan een heilige oomblik wees in ’n kapel wat ons sommer met lappe gaan maak.

“Daarna gaan ons kuier en braai en feesvier saam met die familie.

“Dit gaan ’n lekker troue sonder tierlantyntjies wees; ’n heilige, maar aardse troue.”