Lynelle het vroeër vandeesweek klaargemaak met die verfilming van haar kykNET-reeks, Jý Geld. Sy en die verfilmingspan het toe besluit om in Melville ’n drankie te drink om dit te vier. Maar toe loop sy deur onder ’n selfoondief!

"By die restaurante in Melville is die stoele en tafeltjies op die sypaadjies. Ek het met my rugsak op my rug gestaan met my rug na die pad," vertel sy ons. "Dit het gevoel of iemand aan my stamp of stoot. Toe ek omdraai, stap ’n 'sekuriteitswag' verby my. Ek dink toe: 'Wag, laat ek voel of alles nog is waar dit moet wees.'"

Dis toe dat sy ontdek haar selfoon is skoonveld. "Ek sê toe vir my vriende ek dink daai ou het nounet my foon gesteel."

Die man, wat soos ’n sekuriteitswag geklee was, het nie eens gehardloop nie - vermoedelik om nie aandag te trek nie. Dis toe dat die adrenalien inskop.

"Ek en my vriende het oorgestap na die ou toe en ek het gesê: 'Dude, jy't nou net my foon gesteel.' Hy het dit eers ontken," vertel sy.

Haar span het hom omsingel en wou weet of hulle hom kan deursoek. "Toe haal hy skielik die foon uit en sê hy het dit op die grond opgetel. Ek is net bly ek het my foon teruggekry," vertel Lynelle. "Ons het die ou toe laat gaan. Hopelik sal hy twee keer dink voor hy weer so iets doen."

Sy het haar nagmerrie-ervaring ook op Instagram met haar aanhangers gedeel.


"My probleem is dat ek baie dapper is in sulke situasies. Dis nie altyd slim nie," sê sy. "Toe ons onlangs in Kambodja was, het ’n apie op my vriendin se rug geklim en haar sonbril gesteel. Sy wou net wegloop. Ek sê toe: 'Kry jou bril.' Ek wou die bril afvat by die apie, toe wil hy my byt! ’n Mens kry nie altyd ’n gelukkige einde nie."

Temple terror #gangstafail

A post shared by Lynelle Kenned (@lynelle_kenned) on

Jý Geld, die program waarin Lynelle mense finansiële raad gee, begin op 9 Julie om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Set life ?????? #JýGeld #makingTV

A post shared by Lynelle Kenned (@lynelle_kenned) on