“Nee, jong. Dit gaan nie so lekker nie,” het ’n moedelose Wynand aan Huisgenoot gesê terwyl hy van Gauteng af terug Kaap toe ry. Hy was in die Noorde vir optredes en het spesiaal sy bus by ’n vriend se huis in Joostenberg Vlakte gelos sodat dit veilig is.

Die boewe het vermoedelik Dinsdag in die vroeë oggendure toegeslaan en onder andere met ’n digitale menger, klankversterker en kragdrade ter waarde van sowat R70 000 weggekom.

“Ek is nog nie eers heeltemal seker wat alles weg is nie. Ek dink my verhoogligte is ook gesteel.”

Om alles te kroon is niks van die toerusting verseker nie. “Ek weet nie wat ek nou gaan doen nie,” sê Wynand mismoedig.

[post-slider]

Die sanger sê die inbraak is net een van vele terugslae wat hy die afgelope ruk beleef het. Sowat ’n jaar gelede moes hy sy maatskappy, Southern Buzz, wat CD’s vervaardig, toemaak omdat CD-verkope so sleg is. Hy het toe by ’n mediamaatskappy gaan werk, maar sy kontrak het einde Januarie verstryk en twee weke gelede moes hy sy motor verkoop omdat hy nie meer sy paaiemente kon bekostig nie.

“Ek was eintlik Gauteng toe om te gaan werk soek, omdat die Kaap so stil is, maar dinge is daar ook maar baie dood.”

Die moontlikheid is darem daar van ’n paar vertonings in Junie waarvoor hy weer sal opgaan. “Ek het ook vir ’n paar poste in die Kaap aansoek gedoen. So as ek nou iets kry sal ek gaan daarvoor.

“Ek dink mens kan my nou maar amptelik ’n swerwer noem.”

Lees ook op Huisgenoot.com:

Céline Dion verklap laaste woorde aan haar man oomblikke voor hy sterf

Daar skort iets met hierdie foto – kan jy dit uitpluis?

Ontmoet 7de Laan se nuwe gesin: In so ’n kas moet daar geraamtes skuil . . .

En waar in die wêreld bevind Faf en sy vrou hulself?