’n Ses-en-sestig-jarige man van Meredale in Johannesburg is vanoggend vroeg tydens ’n inbraak in sy huis vermoor.

Chitra Bodasing, woordvoerder van ER24, sê mediese werkers het hulle ongeveer drieuur vanoggend ná ’n noodoproep na die huis gehaas.

“Daar word vermoed die man het sy gesin probeer beskerm toe hy geskiet is. Paramedici het hom in ’n vertrek gekry met beserings aan die kop,” sê sy.

“Ongelukkig was daar niks wat vir hom gedoen kon word nie en hy is dood verklaar. Die res van die gesin, onder meer drie jong kinders, was ongedeerd,” sê Chitra.

Sy sê die polisie ondersoek die moord.

Bron: News24