.

Mary Riley (70) moes 50 steke in haar gesig en 11 steke op haar knie kry toe sy oor werkersgereedskap gestruikel het en op 'n elektriese saag te lande gekom het. Die gereedskap is glo deur die werkers agtergelaat toe hulle verbeteringe aan haar huis in ’n aftreeoord aangebring het.

Mary het in daardie stadium reeds longkanker gehad en het chemoterapie ondergaan toe die aaklige voorval plaasgevind het. Boonop het die kanker in hierdie stadium ook na haar brein begin versprei.

"Sy moes haar chemoterapie staak as gevolg van haar beserings en was net nooit weer sterk genoeg daarna om die behandeling te hervat nie," het haar dogter Charlotte Farndale aan metro.co.uk gesê.

"My ma het vir bykans 'n jaar gesukkel met die beserings wat sy opgedoen het. Sy het permanent in pyn verkeer en 'n ellendige kwaliteit van lewe gehad. Haar knie het net nooit regtig genees nie," het sy gesê.

Ná die val het Mary ’n lelike letsel oor haar gesig gehad waar die elektriese saag haar gesny het.

Charlotte is oortuig dat haar ma se lewe deur die kanker sowel as haar beserings beëindig is.

"Ons is uiters jammer om van Mary se dood te hoor," het Olivia Grant, voorsitter van die aftreeoord waar Mary gewoon het, gesê. "Ons verstaan daar is 'n uitstaande eis met die kontrakteur. Daarom sal dit onvanpas van my kant wees om verder kommentaar te lewer terwyl die saak ondersoek word."

Charlotte hoop om met 'n eis teen die subkontrakteur voort te gaan ongeag haar ma se dood.

Bron: metro.co.uk