WAARSKUWING: HIERDIE BERIG KAN SENSITIEWE LESERS ONTSTEL

Toe Ilanie Erasmus twee weke gelede vir haar 92-jarige ouma in die ouetehuis gaan kuier, kon sy nie glo wat sy sien nie. “Ek was so geskok toe ek haar sien. Ek kon nie glo dis my ouma nie,” vertel Ilanie (35).

[caption id="attachment_139511" align="alignnone" width="600"]Toe Illanie Erasmus by haar ouma, Poenkie Matthyssen, kom, was sy geskok om te sien hoe sy lyk. Foto's: Verskaf Toe Illanie Erasmus by haar ouma, Poenkie Matthyssen, kom, was sy geskok om te sien hoe sy lyk. Foto's: Verskaf[/caption]

Haar ouma, Poenkie Matthyssen, was brandmaer en erg gedehidreer. Sy het ook ’n gat aan haar voet gehad wat tot op die been oop was weens ’n bedseer waarna nie behoorlik omgesien is nie.

Poenkie woon al die afgelope twee jaar in die Ons Gryse Jeug-ouetehuis op Sasolburg. Dié ouetehuis was in die verlede ook al in die nuus oor die wyse waarop inwoners hanteer word. Die nuusjoernaalprogram Carte Blanche het dit ondersoek.

[caption id="attachment_139510" align="alignnone" width="600"]Die Ons Gryse Jeug-ouetehuis op Sasolburg is al voorheen deur Carte Blanche ondersoek. Die Ons Gryse Jeug-ouetehuis op Sasolburg is al voorheen deur Carte Blanche ondersoek.[/caption]

“My ouma was letterlik vel en been. Ons het haar onmiddellik na ’n dokter geneem wat net so erg geskok was oor die bejaarde vrou se gesondheid.”

Ilanie het die verpleegsters by die ouetehuis hieroor gekonfronteer.

“Hulle het vir my gesê almal weet my ouma wil nie drink of eet nie en het nie verder probeer om haar te voer nie. Hulle het haar net gelos. Hulle het ook gesê hulle het haar bedsere elke dag skoongemaak,” vertel Ilanie aan Huisgenoot.

[caption id="attachment_139509" align="alignnone" width="600"]Illanie vertel haar ouma het 'n lelike bedseer op haar voet gehad. Foto: Verskaf Illanie vertel haar ouma het 'n lelike gat aan haar voet gehad wat tot op die been oop was. Foto: Verskaf[/caption]

“Dit is alles leuens. Toe ek vir my ouma water en kos gee, het sy gedrink en ’n bietjie geëet. En hulle het onmoontlik behoorlik na daardie bedseer gekyk, anders sou dit mos nie so gelyk het nie.”

Die verpleegsters in die tehuis was glo ook ongeskik met Ilanie, maar omdat sy bang was hulle dit op haar ouma sou uithaal, het sy stilgebly en ouma Poenkie so gou moontlik probeer uitkry om haar na ’n hospitaal te neem. Die bejaarde vrou is verlede Maandag (26 September) in ’n hospitaal opgeneem.

[caption id="attachment_139512" align="alignnone" width="600"]Illanie het haar ouma dadelik uit die ouetehuis verwyder. Sy sterk tans in die hospitaal aan. Foto: Verskaf. Illanie het haar ouma dadelik uit die ouetehuis verwyder. Sy sterk tans in die hospitaal aan. Foto: Verskaf.[/caption]

“Dit gaan reeds baie beter met my ouma. Sy is steeds in die hospitaal en sterk goed aan,” sê Ilanie. “Die dokters sê sy het longontsteking opgedoen weens die dehidrasie en hulle probeer daarteen veg.”

Volgens Ilanie sal sy nie toelaat dat haar ouma teruggaan ouetehuis toe nie. Die familie het reeds ander versorging vir haar gereël.

“Ek wil die ander bejaardes wat daar bly probeer help deur die nuus bekend te maak sodat niemand so hoef te ly nie. Dit het voorheen by dieselfde ouetehuis gebeur en ek is seker my ouma was nie die laaste geval nie. Ons is in die proses om ’n saak teen die ouetehuis aanhangig te maak nadat ’n prokureur gesê het dit was poging tot moord,” sê Ilanie.

* By navraag het die Ons Gryse Jeug-ouetehuis gesê hulle kan geen kommentaar lewer op die bewerings nie.

“ ’n Volledige ondersoek word gereël om hierdie bewerings so gou moontlik te ondersoek,” het De Wet Claassens, hoof uitvoerende direkteur van Engo wel gesê.

Ons Gryse Jeug op Sasolburg is een van Engo se programme wat onder die direktoraat bejaardesorg val. Die ondersoek sal gedoen word deur Engo se direkteur van bejaardesorg, wat ’n geregistreerde verpleegkundige is.