AO Alwin Labans, woordvoerder van die Port Elizabethse polisie, sê die seun (in sy middel-30’s) het kort voor 23:00 by die huis gekom nadat hy by ’n nagklub in die gebied gekuier het.

“Daar word beweer die man het gedrink en fisiek met sy pa begin baklei toe hy by die huis kom,” sê hy.

Alwin sê die 65-jarige pa het sy vuurwapen gegryp toe sy seun hom na bewering aanval. Die pa was in die bed en aan ’n ventilator gekoppel.

’n Skoot is afgevuur en die seun is in die onderlyf getref.

Alwin sê die polisie is in reaksie op die skietery na die huis gestuur en die bejaarde man is in hegtenis geneem. Die seun is hospitaal toe geneem vir behandeling.

Die polisiewoordvoerder sê die pa het vlugtig in die hof verskyn en is vrygelaat, maar sy vuurwapen is gekonfiskeer.

Bron: News24