“Trap uit my huis uit!” het Angelina Youngman (70) geskree toe sy Donderdag drie mans met ‘n oorgehaalde rewolwer in haar huis in ’n sekuriteitslandgoed in Sir Lowry’s Pas aan die buitewyke van Kaapstad raakloop.

Wat daarop gevolg het, het moontlik die inbrekers meer geskok as vir haar.

“Die man met die rewolwer het stadig na my toe aangekom en die rewolwer in my gesig gedruk,” het Youngman Sondag aan News24 vertel.

“Die eerste ding wat ek kon bykom, was die telefoongids, dus het ek dit gegryp en die hand met die rewolwer weggeklap. Sy hand het beweeg, maar hy het nie die rewolwer laat val nie. Dit het soos die gebeure in ’n fliek gevoel.

Hy het haar met die rewolwer agter die linkeroor geslaan en sy het hom teruggeslaan met die telefoongids en toe sommer ook met die vuis bygedam.

“Hy het my kop heeltyd vasgehou. Ek het met hom begin baklei, want wat het hy in my huis gesoek? Dis nie reg nie.”

Volgens haar het sy medepligtiges net daar gestaan en haar van die kantlyn af dopgehou.

Toe haar huiswerker op een tydstip in die gang afgestap kom, was die gewapende se aandag vir ‘n oomblik afgetrek.

Youngman het die afleiding gebruik om uit die huis uit te vlug.

In die agterplaas het sy daarin geslaag om een been oor ’n muur, wat enkele meters hoog is, te haak en bo-oor die muur te klouter.

Die eerste bure waar sy hulp gesoek het, was nie tuis nie, maar van die ander bure het haar te hulp gesnel.

Haar bekommernis oor haar huiswerker se lot is uit die weg geruim toe dit aan die lig kom dat sy daarin kon slaag om haar in ’n kamer toe te sluit.

News24

Source

http://www.news24.com/SouthAfrica/News/Granny-fights-off-housebreakers-with-telephone-book-20150726

Version