Blykbaar het ’n inbreker die man van oor die 70 in sy kombuis gekonfronteer nadat hy wakker geword en gaan water drink het.

Sy vrou het haar man te hulp gesnel terwyl hy met die inbreker gestoei het. Die geveg het deur die grootste deel van die huis afgespeel.

Lees ook: Meisie val 8 verdiepings na haar dood aan Durban se strandfront

Patricia Leask (69) het aan News24 gesê haar familie weier dat misdadigers hulle intimideer.

“Ons het 18 jaar gelede geëmigreer, maar ons kom vakansies huis toe om by ons kleinkinders te kuier. Ons ken Suid-Afrika goed; daarom is ons bewus van die misdaadsituasie. Ons sal nie toelaat dat hulle ons lewe ruïneer nie,” het sy gesê.

Patricia het vertel sy het Woensdag in die vroeë oggendure wakker geword van die geluid van haar man wat met ’n inbreker worstel.

“My man, Ronald, het net ná vier die oggend wakker geword en toilet toe gegaan en toe besluit hy wil iets hê om te drink. Hy is na die kombuis en omdat dit donker was, het hy gedink dit is ek toe hy ’n figuur sien,” het sy gesê.

“Toe die figuur wegspring, het hy besef dis nie ek nie. Hy het die ou beetgekry en hom probeer uitdwing by die deur waar hy gedink het die ou ingekom het.”

Patricia sê die man en drie ander het sonder haar man se medewete deur ’n slaapkamervenster by die huis ingekom en het hy gesukkel om by haar man verby te kom om te ontsnap.

Lees ook: Trane van wanhoop word trane van vreugde

“My man is 76 jaar oud en hy is nie ’n groot man nie, maar hy het sy man gestaan. Hy het die hele ent in die gang af teen die ou baklei en val toe by die slaapkamer in, wat my laat wakker word het.”

Sy sê sy het toe op die man gespring wat met haar man baklei het.

“Ek het net op hom gespring en hom probeer wurg so hard as wat ek kon. Ek het ’n paar goeie krapmerke aan sy gesig ingekry en my naels is vandag slegter daaraan toe. Toe (die inbreker) besef hy gaan nie wen nie, het hy weggeruk en by die venster uitgeklouter,” het Patricia gesê.

Bron: News24