[caption id="attachment_152905" align="alignnone" width="574"]Kusma Vati (78) eet elke dag 2 kg sand en meen dis waarom sy steeds so gesond is. Foto: Caters news/Magazine Features Kusma Vati (78) eet elke dag 2 kg sand en meen dis waarom sy steeds so gesond is. Foto: Caters news/Magazine Features[/caption]

Kusma Vati (78) eet reeds die afgelope 63 jaar elke dag hope sand. Volgens haar "het dit geen nadelige uitwerking" op haar gesondheid nie.

Trouens, sy is vas oortuig daarvan die sand is die hoofrede waarom sy nog nooit ’n dokter moes spreek nie. "Dit was nog nie nodig nie," sê sy. "Vir so lank as wat ek kan onthou, voel ek piekfyn."

Dié ouma van Waranasi in die staat Oetarpradesj het op 15 begin sand eet. Eers het haar maag gepyn, maar gou "het dit normaal begin voel".

"Dit voel vir my asof die minerale in die sand my die energie gee om in die veld te werk."

Buiten sand hou Kusma ook daarvan om aan die mure van haar huis te kou. Haar kleinkinders glo hul ouma is geestelik versteur, maar Kusma wil niks daarvan weet nie.

"Hulle dring daarop aan dat ek mediese hulp kry, maar ek kan nie die nut daarvan insien nie.

"Ek is gesond en dis alles te danke aan die sand."

Bronne: Caters, Metro, Mirror