Wie sê ou mense kan nie nuwe vaardighede aanleer nie?

[caption id="attachment_148033" align="alignnone" width="600"]FOTO: Facebook/The Dogwood Forest Assisted Living FOTO: Facebook/The Dogwood Forest Assisted Living[/caption]

Dié bemoedigende storie van ’n afgetrede 86-jarige man bewys die ouderdom is net ’n getal en dis nooit te laat om ’n nuwe stokperdjie te begin nie.

Ed Moseley het homself leer brei sodat hy mussies vir vroeggebore babas kan brei.

Toe die personeel by die Dogwood Forest Assisted Living die inwoners vra om die hospitaal in Atlanta te help deur wolmussies vir vroeggebore babas te brei, het die afgetrede ingenieur besluit om betrokke te raak.

Ed het teen kanker geveg, maar daar was nog iets wat hom verhoed het om te help – hy kon nie brei nie.

“Ek het nog nooit in my lewe gebrei nie,” het Ed aan InsideEdition.com vertel. “Volgens die bestuur sou dit ’n lekker projek wees om ou mense uit die moeilikheid te hou.”

Ed het dus sy dogter genader en sy het hom met ’n weefgetou (’n weeftoestel) verras.

“Ek het my dogter daarvan vertel en gevra: ‘Hoe brei ek? Wat moet ek doen?’,” het Ed aan die Atlanta Journal-Constitution gesê.

Lees ook: Waaghalsige ouma (81) ‘lewe op die rand van gevaar’ en spring by vliegtuig uit

“En die dierbare kind het vir my ’n beginner-weefgetoustel, breidraad en ’n aanwysingstel gekry.

Ek het toe stadig begin leer en agtergekom ’n mens het net geduld nodig,” het hy gesê.

Hy het die vaardigheid vinnig aangeleer en kort daarna het sy mussieprojek stoom opgebou.

“Ek kon brei en terselfdertyd televisie kyk, het hy teenoor InsideEdition.com erken.

Hoewel dit hom ure geneem het om sy eerste skepping te voltooi, was Ed vasbeslote om ’n sukses van sy projek te maak. Hy het binne ’n kort tydjie 55 mussies gemaak en het van die ander inwoners aangemoedig om by hom aan te sluit. Hy het hulle geleer om mussies te maak.

Ed en sy mede-inwoners by Dogwood Forest Assisted Living het in ’n kort tydjie meer as 300 mussies voltooi en hul oorspronklike doelwit van 150 mussies verdubbel.

“Ons het begin om my rusbank vol mussies te maak, en skielik het mussies van verskeie plekke af ingestroom.”

Kyk ook: Skreeusnaakse oomblik toe ouma haar kleinkind in die bed sit

Ed se mussies is aan die neonatale waakeenheid by die Northside-hospitaal in Atlanta gelewer – net betyds vir die nasionale bewusmakingsdag van vroeggebore babas.

Meer babas word by hierdie hospitaal gebore as by enige ander hospitaal in Amerika – insluitend ongeveer 2 000 vroeggebore babas per jaar, het Independent berig.

Doug Bunt, wie se seun, Matthew, op 12 November vroeggebore is, het aan ABC News gesê hy was verheug om te hoor daar is mense “wat aan die welsyn van hierdie babas dink”.

“Die feit dat hierdie man tyd uit sy dag gebruik om die kleintjies te help, beteken werklik baie vir ons,” het hy bygevoeg.

Ed het nou begin om keppe vir sy vriende en familie te maak.

“Ek neem tans bestellings,” het hy verklaar. “Solank hulle die breidraad verskaf, doen ek dit gratis.”

Bronne: Independent.co.uk, Metro.co.uk, InsideEdition.com, ABCNews, Facebook