Dis dieselfde plaas waar vier skote uit ’n aanvaller se vuurwapen hom glo rakelings gemis het. Dit was ook hier dat hy glo self die wapen moes opneem om sy en sy vrou se lewe te beskerm. ’n Koeël uit dié wapen het glo een van die aanvallers noodlottig gewond.

En dit was hier op Palmietfontein dat drie aanvallers vasgekeer is met die wapen waarmee hulle hom glo wou skiet, en die graskapper (soortgelyk aan ’n panga) waarmee hy na bewering gekap is, nog by hulle.

Vandat Carl een van sy vermeende aanvallers op die dorp gewaar het nadat al drie veronderstel was om in die tronk te wees omdat hulle borgtog geweier is, spook die gebeure van 29 Augustus verlede jaar weer pal by hom.

“Dit bly in jou agterkop. Jy is maar bekommerd. Hulle was op jou plaas. Hulle ken jou opset. ’n Mens bly maar versigtig,” sê Jaco Dempsey, Carl se regsverteenwoordiger.

Die bejaarde boer sien nie kans om self met Huisgenoot te praat nie.

Jaco sê hulle het nie eens geweet sy kliënt se vermeende aanvallers is vrygelaat nie.

“Nadat (Carl) die (vermeende aanvaller) op straat gesien het, het hy my gebel en gesê hy verstaan nie hoe dit kan wees nie, want hy was onder die indruk hulle is borgtog geweier,” sê Dempsey.

“Toe ek begin navraag doen, moes ek hoor die nasionale vervolgingsgesag het die saak teen hulle op 9 Februarie laat vaar. Volgens die NVG het hulle nie genoeg bewyse om die mans skuldig te bevind nie.” Dempsey sê daar is volgens hom “’n magdom bewyse”.

“(Carl) is baie teleurgesteld.”

Phaladi Shuping, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Vrystaat, sê die aanklaer het op grond van die bewyse wat tot sy beskikking is, besluit daar is nie tans ’n kans op suksesvolle vervolging van die drie beskuldigdes nie. Dit is om dié rede dat die saak voorlopig teen hulle teruggetrek is.

“Sou daar later nuwe bewyse na vore kom en dit die kans op ’n suksesvolle vervolging verbeter, kan die aanklaer sy besluit hersien en besluit om hulle weer aan te kla,” sê Phaladi.

Maar dit kan wel nog gebeur dat Carl vervolg word vir die dood van een van sy aanvallers. Jaco sê ’n lid van die Valke het hom reeds in kennis gestel dat Carl weens moord ondersoek word.

Tog sê Phaladi so ver sy kennis strek, is daar nie in dié stadium planne om enigiemand weens dié saak te vervolg nie.

Intussen beplan Carl en Jaco om ’n privaat vervolging teen die drie vermeende aanvallers, wie se name aan Huisgenoot bekend is, in te stel. Hulle wag net op geskrewe bevestiging van die NVG dat hulle nie van plan is om die mans verder te vervolg nie.

Dié drie is die dag van die voorval op Carl se plaas in hegtenis geneem. In September 2016 is hulle borgtog geweier. Na bewering het van hulle vorige veroordelings. Ná die aanval op Palmietfontein, is hulle aangekla van poging tot moord en diefstal.

Hul vermeende makker, Saniboy Segalo, het weens ’n skietwond aan sy long beswyk.