Eers het Instagram net gewaagde popprinsesse soos Rihanna oor die vingers getik oor hul naakfoto’s, nou het die debat rakende wat op die sosiale netwerk gedeel mag word kookpunt bereik nadat ’n ma van Londen se blad gesluit is oor ’n “onvanpaste” foto van haar 19 maande oue dogter.  In die foto lig die kleuter, Marlow, haar rokkie op om na haar naeltjie te kyk, en is haar maag en bolyf ontbloot, berig Metro UK.

Marlow se ma, die 33-jarige Courtney Adamo, was die volgende dag geskok om te sien Instagram het haar foto verwyder.

In ’n tartende stap het Courtney die foto weer opgelaai, waarna haar Instagram-blad heeltemal toegemaak is.

Die Globe and Mail het ook vroeër vanjaar berig dat ’n ma van Kanada, Heather Bays, ook haar Instagram-blad kwyt is nadat sy ’n foto opgelaai het waarin sy borsvoed.

Hier is ’n paar wenke vir ma’s op die web:

  • Moet nooit naakfoto’s van jou kinders oplaai nie. Al dink jy dit is onskuldig, kan seksuele misdadigers die foto’s misbruik.
  • Skakel die GPS-funksie op jou apps af sodat dit nie jou ligging bekendmaak wanneer jy ’n foto deel nie. Dit beskerm jou en jou kinders se veiligheid.
  • Maak seker jou profiel is slegs sigbaar vir jou vriende. Moet liefs ook nie foto’s van jou kinders oplaai waar dit vir die openbaar te sien is nie, soos as jou profielfoto.
  • Onthou ook, foto’s wat vir jou oulik is wanneer jou kind klein is, kan jou kinders later as vernederend ervaar. Dink aan hoe jou kind sou voel as hulle later in hul lewe moet sien watter foto’s jy van hulle deel.
  • Wees ook versigtig om foto’s van jou vriende se kinders op sosiale netwerke te deel. Net omdat jy daarmee gemaklik is, beteken nie jou vriende is nie.
  • Wees bedagsaam teenoor vriende. Moenie sonder hul toestemming jou vriende se ongebore baba se geslag of naam aanlyn bekendmaak, foto’s van die doop deel of inskrywings oor hul baba maak nie.
  • Waak daarteen om jou kind se naam op sosiale media bekend te maak. Dit kan veiligheidsrisiko’s skep.
  • Dit baat nie jy maak elkeen van jou bewegings op sosiale media bekend en wil dan jou kinders later in hul lewe daaroor verantwoordelik leer wees nie!

- Mieke Vlok

Bronne: Telegraph.co.uk, Metro UK, globeandmail.com, moms.popsugar.com, babyzone.com