Elke ma weet hul prinsie of prinsessie is die mooiste wese in die wêreld. Maar as jou kind se voorkoms ander se aandag (dalk selfs ’n modelagentskap) trek, kan jy dalk die wêreld van modelwerk beproef.

Modelwerk kan vir jou kind (en vir jou) baie lonend wees. Dit sal geleenthede skep om jou kind se selfvertroue te verbeter, om hulle verantwoordelikheid en tydsbestuur te leer, om selfstandig te begin word en die waarde van geld en werk te begin verstaan.

Kendall Jenner (18), Charlize Theron (39), en Brooke Shields (49) is net ’n paar van die groot name wat modelwerk gedoen het.

Brooke Shields is bekend daarvoor dat sy haar debuut op 11 maande gemaak het, toe sy in ’n advertensie vir die seep Ivory verskyn. Sy het toe op 12-jarige ouderdom ’n kinderprostituut in die fliek Pretty Baby gespeel.

Kendall Jenner, wat onlangs haar van laat vaar het, het op 14 modelwerk begin doen. Sy het saam met haar suster, Kylie, in die tydskrif Paper verskyn in ’n artikel getiteld Beautiful People.

Ons eie goue meisie, Charlize Theron, het op 16 Milaan toe getrek nadat sy ’n kompetisie gewen het.

Vyf aspekte waaraan jy moet dink as jou kind modelwerk begin doen:

1. Die agtenswaardigheid van die agentskap waar jy jou kind inskryf

Dit is baie belangrik. Kies ’n agentskap wat jou kind se veiligheid en belangstellings in ag neem. Moenie kontrakte oorhaastig sluit nie, en maak seker jy vra oor dinge waaroor jy onseker is. Vra hoeveel kommissie hulle neem, hoe lank jy sal moet betaal en oor werksure.

2. Jou kind se gesondheid

Met elke projek wat jou kind aanpak, moet jy seker maak hulle is gesond. Modelwerk plaas ekstra stres op jou kind, veral as daar fotosessies is wat saans of naweke laat aanhou. Dit is belangrik dat jou kind genoeg rus en ’n gebalanseerde dieet hê.

3. Jou kind se geluk

’n Ongelukkige kind beteken altyd ’n ongelukkige ouer. Jy wil die beste vir jou kleintjie hê en modelagentskappe soek die gelukkigste, mees ontspanne kind moontlik. Moet nooit jou kind dwing om iets te doen nie. Terwyl die groter prentjie dalk vir jou duidelik is, moet jy steeds jou kind se gemoedsrus bo alles ag. As die ervaring te stresvol is vir jou kind, moet jy ophou.

4. Jou kind se opvoeding

Dit kan nie geïgnoreer word vir ’n modelloopbaan nie. Jou kind se opvoeding is die heel belangrikste. Jy kan tuisonderrig oorweeg as hul loopbaan te besig raak. Maak seker, veral aan die begin, dat hul huiswerk gedoen is, eksamenvoorbereiding aan die gang is en dat jy op datum bly met sake by die skool. Dit is ’n goeie idee om jou kind se onderwyser ingelig te hou oor jou kind se rooster.

5. Die geld

Dit is ongetwyfeld een van die redes waarom jou kind modelwerk doen. Dit kan ’n winsgewende saak wees, en kan nuttig wees om jou kind se spaarfonds te begin. Agentskappe betaal tussen 60 en 90 dae ná die betrokke fotosessie. Agente vra ’n kommissie van sowat 20 persent.

Besoek http://www.kidsincmodels.co.za/faq.html vir nog inligting.

- Megan Bursey

Bronne: kidsincmodels.co.za, babble.com, oprah.com, papermag.com, netmums.com