Dis beslis ’n geval van aanhouer wen. Danielle Ceasar het ’n baken van hoop vir ander aanhangers geword nadat sy en die akteur Jake T. Austin, op wie sy dolverlief was, ’n paartjie geraak het. En die 21-jarige akteur, bekend vir sy rol as Max in die Disney-reeks The Wizards of Waverly Place is duidelik dolverlief op Danielle. Hy het ’n oulike foto van hulle wat soen op Instagram gedeel met die onderskrif: “Ek is mal oor haar.”

A photo posted by Jake T. Austin (@jaketaustin) on

Volgens MailOnline het Danielle (22) dieselfde kiekie op haar Instagram-blad gedeel en daarby geskryf: “Elke liefdesverhaal is mooi, maar ons s’n is my gunsteling.”

Lees ook: Kyk net hierdie bekendes se verborge talente

Sy het sedertdien haar blad privaat gemaak. Hul liefdesverhaal het allesbehalwe glansryk begin. Danielle het jare gelede twiets aan Jake begin stuur, berig CapitalFM en het onder meer geskryf: “Jy’s ongelooflik. Jammer, ek het net gedink jy moes dit weet :-)”. Haar obsessie oor die ster het vandaar net toegeneem. “Ek en @jaketaustin gaan trou,” het sy in 2010 getwiet. “Sjuut. Hy weet dit nog nie ;) Ja, ek weet ek is mal :D”. Sy’t ook sy blad oorval met boodskappe soos: “Is dit vreemd dat ek jou op hierdie oomblik graag wil soen? Sjoe, jy is so sexy,” en: “Ek gaan beslis hierdie somer probeer om jou te ontmoet!”

Dit het sy toe wel reggekry – en dis dalk waar als begin het. Sy het dit reggekry om in 2011 ’n foto saam met Jake by Planet Hollywood in New York te neem. Die tienerhartebreker het haar kort daarna op Twitter begin volg en die res is geskiedenis!

“Ons is jonk en geniet dit om mekaar te leer ken,” het Jake aan People gesê toe die nuus van sy ongewone liefdesverhaal uitkom.

Lees ook: Groot hartseer vir Céline Dion

“Dit maak nie saak hoe jy iemand ontmoet nie – op die stel, in ’n koffiewinkel, by die skool of in die bedryf. Soms vorm jy ’n band met mense op die regte oomblik en kliek julle net.”

Jake se inskrywing het sy vroulike aanhangers gaande gehad. "Al wat ek kan sê is geluk! Sy het van obsessiewe aanhanger gegaan na sy meisie in vyf jaar. Jy is my inspirasie, hahaha," het een kwytgeraak.

'n Ander vra weer tong in die kies: "@harrystyles kan dit ons wees, asseblief?"

Bronne: dailymail.co.uk, capitalfm.com, cosmopolitan.com