Die polisie ondersoek ’n bekende begrafnisonderneming wat “per ongeluk” die verkeerde liggaam veras het.

Siva Chetty, die prokureur van die Van Niekerk-familie van Pietermaritzburg, sê die polisie gaan ’n ondersoek doen na die Avbob-begrafnisonderneming wat “per ongeluk” die liggaam van Cecilia Luck Brock na Port Shepstone geneem en sonder die familie se medewete veras het.

Cecilia (86) is op 5 Julie oorlede, maar haar familie kon haar nie ’n laaste keer groet nie omdat sy voortydig veras is.

Haar liggaam is “per ongeluk” omgeruil met dié van ’n ene mnr. Wright, wie se familie in Londen woon en versoek het sy liggaam moet veras en sy as oorsee gestuur word.

Luidens ’n verklaring deur Cecilia se skoonseun, past. Peter van Niekerk van Pietermaritzburg, het die familie haar liggaam ná haar dood besigtig en met Avbob gereël om die begrafnisreëlings te tref.

Die begrafnis is vir 10 Julie gereël, maar ’n dag voor die tyd het ’n verteenwoordiger van Avbob Peter meegedeel hy het “slegte nuus”.

“Ek het hom gevra wat gebeur het en hy het my ingelig die liggaam is na Port Shepstone gestuur. Onbewus van wat gebeur het, het ek hom gevra om die liggaam dan net terug te bring Pietermaritzburg toe. Hy het geantwoord dit is nie so maklik nie,” sê Peter in sy verklaring aan Siva.

Cecilia se liggaam is in Port Shepstone veras op die dag ná die beweerde “omruiling” met mnr. Wright se oorskot.

“Ons was verslae toe ons hoor wat gebeur het en het familielede oor die tragedie ingelig,” lui Peter se verklaring voorts.

’n Gedenkdiens is op 10 Julie vir Cecilia gehou.

Siva sê die familie gaan regstappe doen teen die begrafnisonderneming en het die polisie gevra om die omstandighede rondom die voorval te ondersoek.

Bron: News24